Author Topic: Donkie-eiers  (Read 6164 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Moderator
  • Hardebaard
  • Posts: 2283
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Donkie-eiers
« on: April 01, 2012, 07:51:30 PM »
Donkie Eiers

Ek was eintlik baie bevoorreg om groot te geword het in ‘n familie waar daar goeie stories vertel is. Soms wik en weeg ek eers voordat ek ‘n storie uit my kinderdae oorvertel. Ek wil nie graag die indruk skep dat ek nie my eie stories ook “vervaardig” nie en soos dit met hierdie een die geval is, word die storie soms verdraai. Dan maak ander mense ‘n giggelflater daarvan en gaan dit die wêreld deur as ‘n grap.
My eie oupa se regte broer, as ek nou verder in die familie ingaan, gaan van my vriende dalk die mense ken, want die Langkloof waar hulle ook eers met appels geboer het, is maar kort. Elk geval hy, hy het hierdie storie vir my vertel toe ek nog op laerskool was en een vakansie daar by hom op Willowmore gekuier het. Hy sweer daarby dat dit ‘n ware storie is en ek sal dus die plek- en mensname verander om nou nie op tone te trap nie.
Net soos ek nou die storie neerskryf, het ek hom ‘n paar jaar terug in alle vertroue vir ‘n paar vriende vertel net om dit later in die vorm van ‘n grap uit iemand anders se mond te hoor op ‘n dronkpartytjie. Ek voel egter die storie moet reg opgeteken word en sal dit nou maar so verewig.

Op die plaas “Kortvansig” in die klowe van die Karoo vallei tussen Giepiesgat se laagte en Beaufort-Wes het ‘n pa met sy twee seuns gebly wat bitter swaar getrek het. Die pa het maar so op sy manier geplant en gesaai in die dorre, droë aarde dat daar altyd ‘n eetdingetjie was, maar van vleis het hulle nie geken nie. Luukses soos perdekarre en dies meer was daar ook nie.
Toe die pa nou die dag tot ruste kom onder ‘n kakiebos, los hy die twee seuns stoksielsalig-alleen met die plaas, ‘n mank donkiekar, ‘n windskeef donkie en een brein wat die twee onder mekaar gedeel het.
Die donkiekar en die donkie het hul eie storie gehad. Sien, die donkiekar was na baie jare se harde werk al so gelap dat sy een wiel al heelwat kleiner as die ander was. Dit het die donkiekar se wielsporing heeltemal uitgegooi sodat die ding al regs geneuk het. Maar soos die kar se probleem vererger het, het die donkie aangepas en daarom het die donkie geleer om na links te trek om die kar op die pad te hou. Alles op die plaas het begin aanpas, want sien, as die donkie moet ploeg, het hy gedink hy trek die kar en dan het hy pal links geneuk sodat die ploegvore ook al linksom gehou het. Soos donkie moeër geword het,het die sirkel al kleiner geword. Die gevolg was dat al die landerye in linksom-spirale geëindig het. Uit die lug het die plaas soos’n VVV aanloopbaan gelyk.
So het die broers aangegaan met die boerdery in hulle spiraallande.
Een oggend wil hulle die donkie inspan, maar die donkie wil nie saamwerk nie. Hier teen middag besef hulle die donkie het pad gevat agter hul pa aan na beter wyvelde toe.
Daar moet geploeg worre. Wat nou gemaak?
Terwyl dit die oudste se beurt is om die brein te gebruik, besef hy hulle sal moet dorp toe om vir hulle ‘n ander donkie te gaan koop.
So gesê, so gemaak.
Die volgende oggend vroeg maak hulle al hul geld (R45) bymekaar en span die donkiekar in. Die jongste trek en die oudste sit bo. Dis mos net 15 myl tot op die dorp, dan kan die nuwe donkie maar die kar terugtrek.
Aan die begin gaan dit maar haak en tak met die kar wat al regs van die tweespoorpaadjie af neuk. Die oudste blameer die jongste omdat hy skeef trek en die jongste blameer die oudste omdat hy skeef stuur. Maar gou kry die jongste die slag en so beurende na links, soos oorle donkie, vorder hulle al te fluks.
Net voor middag kom hulle op die dorp aan en begin soek vir ‘n donkie wat hulle kan koop.
Hulle het die hele dorp deurgesoek. Van die kroeg tot by die kerk. By die kerk gee die dominee vir hulle kos en water en verduidelik vir hulle die pad na die Algemene Handelaar wat ‘n ouderling in die gemeente is.
By die Algemene Handelaar aangekom, hoor hulle hy het wel ‘n paar donkies, maar die kos R100 een en hy weier om sy prys te laat sak.
Die jongste seun is al redelik mismoedig en verduidelik hulle hele lewensverhaal aan die Algemene Handelaar wat agterkom dat hulle die brein by die huis laat agterbly het.
“Kan Oom nie asseblief help nie? Ons het net R45 en soek dringend ‘n donkie, al is dit net ‘n kleintjie, anders gaan ons doodgaan van die honger.”
“Goed” sê die ou, “Ek dink tog ek kan help. Ek het hier agter nie een nie, maar twee donkie-eiers. Ek sal die twee eiers aan julle verkoop dan kan julle jul eie donkies gaan uitbroei. Julle moet net versigtig wees dat die eiers nie breek op pad huis toe nie en sorg dat die goed koel bly anders vrot hulle.”
Baie opgewonde wil die twee weet wat die twee donkie-eiers hulle gaan kos en hoe lank dit gaan neem om uit te broei.
“Nee maar die eiers is al naby uitbroei en ek sal dit aan julle verkoop teen ‘n baie spesiale prys. Vir julle, R20 ‘n eier en dan gee ek R5 afslag vir kontant. Dit sal dan R40 wees vir die twee eiers plus die R5 afslag, So julle skuld my R45.”
Die twee is vreeslik verlig dat hulle net mooi genoeg geld het en betaal die handelaar. Hy verdwyn daar na agter om terug te keer met twee groot ryp spanspekke.
Die oudste wil weet of die eiers dan nie reeds vrot is nie want hulle ruik baie snaaks vir hom. Nee, verduidelik die handelaar. Dis omdat die eiers al amper moet uitbroei wat hulle so ruik. Daar’s niks om oor bekommerd te wees nie.
Hy help hulle om die donkie-eiers agter op die donkiekar onder ‘n paar goiingsakke toe te maak. Spuit die spulletjie nat en die twee broers is daar weg. Terug plaas toe.
Elke paar myl hou hulle stil om te kyk dat die donkie-eiers nog reg is. Gelukkig is die grootpad huis toe onlangs geskraap en stamp die kar nie te veel nie. Hulle raak gerus.
Toe hulle by die plaashek indraai, kan die jong broer nie verder trek nie en die oudste broer neem die kar by hom oor net om weer ‘n paar keer links van die spore in die spiraal-lande in te voeter.
Toe hulle by die huis kom en die goiingsakke oopmaak, is die donkie-eiers weg. Baie ontsteld span die jongste broer maar weer in en hulle jaag terug met die donkiekar om die donkie-eiers te gaan soek.
Hulle kry die donkie-eiers. Daar waar oudste die pad byster geraak het, het die twee eiers van die kar af gerol.
Aan stukke.
Twee hasies knubbel aan die lekker ryp spanspek.
Die broers is vreeslik opgewonde want die eiers het uitgebroei.
Die oudste spring van die kar af, help die jongste uit die tuie en dadelik wil hulle die twee “donkiekinners" aankeer.
Hieeeeer!... Donkie!... Donkietjie!...    Hiieeeeersoooo! ... Haaaaaaa nou!
Die hasies laat egter nie op hulle wag nie en sit die stuk in met die twee broers agterna. Die jongste broer wat heeldag die kar getrek het sukkel om nie in sirkels te hardloop nie en die ouer broer kan ook nie lekker byhou nie. Maar hulle is fiks van die plaaswerk en gee nie sommer op nie.
So jaag hulle die hasies op en af tussen karoobossies deur.
Na ‘n halfuur se gejaag stop die ouer broer, doodmoeg en vol stof en bloed soos die bossies hom gekrap het.
“Boeta! .....  Boeta!.... Roep hy sy broer. Los maar daai verdomde donkiekinners. Hulle is te vinnig vir ons. Ons wil in elk geval nie so vinnig ploeg nie.”
En so is die twee aan die einde van die dag geldloos en donkieloos terug huis toe.

Die Algemene Handelaar wat die bankrotplaas gekoop het, het blykbaar die volgende seisoen ‘n spanspek-oes soos min gehad en boer vandag nog met spanspek op daardie plaas.
Hy het die twee broers jammer gekry en as bywoners op die plaas laat aanbly. Hulle help elke jaar om donkie-eiers bymekaar te maak. Blykbaar weet hulle presies hoe die eiers moet ruik as dit reg is vir optel.



 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Donkie-eiers
« Reply #1 on: April 02, 2012, 07:06:11 AM »
Goed oorvertel Naas. 
Hoe lui die spreekwoord?  "Een se dood is die ander se brood", of het dit nou iets te doen met "In die land van die blindes is eenoog koning."
Om te weet is om te verstaan.

Offline Fransi

  • Regular Members
  • Melkbaard
  • Posts: 1274
Re: Donkie-eiers
« Reply #2 on: April 02, 2012, 08:06:03 AM »
Ag siestog. :-) Briljant vertel.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Donkie-eiers
« Reply #3 on: April 13, 2012, 01:22:20 AM »
As jy dig is is jy dig, gaan salf of raad daarvoor :sign10: Dankie Naas, dit was nou 'n vyfstergiggelflater  :notworthy:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 10692
  • Gender: Female
Re: Donkie-eiers
« Reply #4 on: April 13, 2012, 10:07:07 AM »
Ek dink dit is net hier waar die groot gelag met die donkies-saam begin het.  Hulle het gehoor toe ek vir Hannes die storie lees en net daar het hulle begin kla!
Naas, dit is altyd lekker om jou stories te lees.  Ware grootlieg verhale.   :icon_biggrin:
Om te weet is om te verstaan.

Offline Angelica

  • Regular Members
  • Hardebaard
  • Posts: 1674
  • Gender: Female
Re: Donkie-eiers
« Reply #5 on: April 14, 2012, 03:46:47 AM »
Dankie Naas...
elle