Digkuns > Diguitdaging

Gedigte vir die digkompetisie

(1/10) > >>

PM:
Hier is die gedigte vir die gedigkompetisie wat die einde Maart gesluit het.
Elke leser het 4 stemme om uit te bring.
Stuur vir my die vier name van die vier gedigte wat vir jou die mooiste is na pm@afrikaanseforum.co.za
Julle het drie dae kans om julle stemme uit te bring.  
Donderdag die 4de April sal ek die aankondiging kom maak dan kan julle weer stem.

1)   Gedeelde vreugde

Luister,
na my rietfluitjiefluister
wat windgevleuel
teen jou kuiltjie lag
en ribbelig dans
in die sluikvleie
van jou oë.


2)   Hande

In die herfs van ons lewe
lê ek my hart
in jou growwe hande neer;
tussen getroue arbeidseelte
weerspieël die sagte polsslag
omgee in jou oë,
verkneukel lagplooitjies
elke kwinkslag
om ons humor te deel.

In stilte
skep ons handevol goud
uit saans se sonsondergang
en wanneer sterrenag
om my vou,
pleister ek die dolksteke
deur my gemoed
se skeure toe
met maansilwer
en koester jou growwe hande
om my wange.


3)   Versugting

My lief,
mag ons walle
stuwend
'n rivierengte
stoot.


4)   Sintuiglik

Soms in n aand soos vanaand
as jy aan my vat
 
Voel
 
voel ek of ek jou kan sien
jou hoor     jou proe  
 
Sien  
 
sien ek jou soos gister se tyd
hierdie tyd           waar ek            net so sit
hier op die bed
 
Met  
 
met Jou hande
anderkant my gedagtes
strelend op die musiek
glyend     oor my bors     my lippe
 
Dan
 
dan hoor ek jou praat soos more
more se son wat weer gaan kom
dan weet ek jy was hier
en ek    kon jou voel

5)   Pasmaats

Trap vir jou 'n lêplek
in my gelooide plooie,
want ek wil jou velvoue
tydsaam eggo-
sonder om jou liddorings te druk
of die fyn vel by jou enkels
te skaaf.

Ryg my steweldig
en dubbelgeknoop
oor die brug van jou voete,
sodat ons in die somerreëns
se grondstrate kan plas.

Poets my totdat ek git glim
en jou wêreld vir jou weerkaats.


6)   Melkbos  II
Die geel son was rond
opgevou hoog bo die berg
en ook oor die groenblou
van die weste see
het strale gestreep-streep
soos die korhaan se skree
Jy’t jou hemp geknoop
teen die son
daardie dag toe ons
by die lendelam tafel sit
het jy met deernis
in my siel gekyk
die beker se oor geklem
en ek met droewig wees,
het die pyn gaan haal
Jy’t jou gesig teen die wind gedraai
en jou knoop ontknoop,   gesluk
 
Ek sal altyd onthou
die blou
van die are op jou bo-hand


7)   Die kronkelhart van strome:

Dit is die rivier wat watervalle voed-
wat in onstuimige versnelling
die blink boog stu
in tuimel hoogte
en pletter plato.

Dit is die rivier wat takke stoot-
wat in kruip verkenning
die pad wroet
en nuut begin
in die oorsteek van grense.

Dit is die rivier wat diep
en standhoudend loop-
wat oewer bied
vir rietneste
en die dorstig teug
van wild.

My lief,
mag ons wyd
om die maalkolke swem
en mag ons rivier
nooit
'n hoefyster word nie.


8)   Winternag van onthou
 
my hande oor jou kaal
rug se biltonge    jou skouers  
jou asem hortend in my nek
jou naak bene se kalm vel streel
die oorverhitting van myne
 
ek blaai en blaai
 
deur joernale se gange van onthou
ek proe die eindelose oggende
van bekersvol wat oorloop
later leegloop
 
ek blaai en blaai
 
deur dagboeke van gister se drome
na ritte oor woestyn van klip en sand
en sproei wat opwaai teen ons bene
op Blouberg se strand
gedigte lees op 'n kombers onder
wilgerbome teen Zevenwaght se rand
 
jou ewig positiewe raad
 
die oggend is grys
ná hierdie winternag in Maart

 
9)   Niet Liefde

Rooi warm klop
die wonderspier
in die donker
holtes van my
Hand gemaakte skelet

Liefde is dit niet
net 'n reaksie
van die lus
wat die oog
hartlike vergryp

Sprokie vorms
getooi in rooi
versier papier
weerspieël patroon
wat liefde moet wees

Liefde is dit niet
net 'n diagram
van die hart
vir die oog
se mooi plesier

Want die liefde
is 'n keuse
om 100%
te gee
te wees
te doen
sonder 'n %
terugneem

Want liefde
is geanker
in die Kruis
binne jou huis
alles in klui

10)  Liefdespel

My pen is die roesrooi
van 'n nagtegaal-veer
wat trapsuutjie getoon
in ons kamer
ingewaai het.

Ek doop dit in 'n inkgebed
van frankincense en mirre rook,
rooswater, soetwyn
en gym arabic-
om met rune spellyn
die simbool van Venus,
twèè harte vas te verf
oor die vleespienk van kers.

Ek seël ons liefde in
met die mildelik doop
van jasmynolie oor was:
Ritmies na basis,
middel na wit pit;
totdat passie oor my hande stort
en die sein van vlam
hoog in die lug wolk.

11)   Season of Sauvignon

wingerde flits in jonkgroen rye
verby
vanoggend
soos elke ander oggend
die Heuwels lok my om te treur
aan jou te dink
daar’s ‘n skeur    
in my
binne my
tentakels van hoop tas
na ‘n miskien is jy hier
miskien daar
maar
dis verby
en aan die aderkant van verlang
is jy



As ek iemand se gedigte vergeet het, laat weet my asseblief.

Ah Willa:
jo - nou moet ek kies .. wat 'n taak!

mag ek Andre vra om my te help om keuses te maak - want ek weet nie - dis almal mooi - daar is net een wat ek nie veel erg is oor nie ... en ek mag net vir jou 4 name stuur ... oi oi

PM:
Jy mag André se hulp inroep ja.  :icon_biggrin:  Twee koppe is mos beter as een.

Ah Willa:
 :toothy4:

PM:
Wie gaan almal stem?  Let asseblief daarop dat daar nog gedigte wat ek vergeet het bygekom het.
As iemand nog iets gestuur het en dit is nie daar nie, druk asseblief hard op my knoppie.  Dit het maar rof met my gegaan. 

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version