Ouma mag nou wel nog nie eens ‘n ouma wees nie, om die waarheid te sê, Ouma is nog nie eens ‘n skoonma nie, maar Ouma is lankal verby die ouderdom waar ander vrouens al vir ‘n paar keer Ouma geword het.
Ek was op my dae ‘n modepop, ‘n dametjie wat heel eerste die nuutste modes gedra het. Ek en my skoonsus, toe my vriendin, op hoërskool - of dit nou rok, skoen, snit of haarstyl was, ons was aan die voorpunt. Twiggy het nog gedink sy is die enigste met die kort haarstyl en groot bokkie-oë, toe dra ons die oulike haarstyl saam met haar. Toe die kiss curls die haarsalonne tref, plak ons ons krulletjies voor die ore teen ons wange vas met Sellotape. Deesdae dra die jong meisies twee bokstertjies – iets wat ons toeka al skooltoe gedra het.
Hippie-sandals: ‘n Stuk gevlegde wol, kraletjies ingeryg , gedraai om die toon langs die groottoon en dan agter om die enkel vasgebind. Gewoonlik het ons ‘n plastiek blom dan net voor daardie knoop by die toon vasgemaak en so het ons geloop. Kaalvoet by jeans en lang rompe met hierdie toutjie om die voet. So…. Hippie-era. Ai, die dae. (Ons was ook die eerstes in die skool wat langbroeke gedra het. Uit die hel, is ons genoem. ) Ek het daardie selfde hippie sandals in die winkels gesien, verlede Desember.
Ek onthou toe die tentrok uitgekom het. Ons MOES dit hê. Dit was ‘n rok met ‘n halter hals en dan baie wyd uitgesny na onder. Die ding het omtrent soos ‘n tent om jou gehang. (Lekker koel in die somer, jy weet. Windjie kon lekker rondspeel onder daai wye stuk material.) Ons was in die koshuis en wanneer dit eettyd of studietyd was, moes ons eers in rye staan, tjoepstil en dan kon ons inloop in die saal na ons onderskeie sitplekke. Nou ja, dat ons twee altyd uitgekyk is deur die onderwysers en gebrandmerk is as die voorbokke… hmmm. Voorbokke as dit kom by modes en by stout wees.
Ons het later geleer om hakkie skoene te dra. Soos wat die skoolloopbaan en dus ook die hormone en daarmee saam die puberteit ontwikkel het, het die hakkies al hoër geword. Tot by die toegelate hoogte, die reëls het jou so bietjie ingeperk, maar ons het ons nie veel aan reëls gesteur nie. As die skooluniform –reëls sê lang swart kouse in die winter, dan het ons lang swart bobby socks (wie onthou dit?) gedra. Mos lank en mos swart. Die boudjies moes so effe uitsteek, sien.
Stilleto’s…
Na skool en ek het altyd hakkies gedra. Die lengte van my beentjies is net bietjie. Om my so ‘n effense hupstoot te gee in die lengte afdeling, moes ek hakkies dra. Niks daarmee verkeerd nie. Ek onthou my heel heel eerste onderhoud: By die Provinsiale Hospitaal in PE. Gaan nou swot vir ‘n suster. My outfit vir die onderhoud? Geel toppie, pers mini, hoge, hoge geel platforms. Sulke strappy platforms. En hulle was géél. Deesdae weer in. (En ek praat nou van 1974.) As jy daar afval, breek jy jou nek. Maar ek het die job gekry.
Hoe later, hoe kwater en verpleging laat jou bene en voete een groot moeg. Jy slaap met jou bed se onderkant op bakstene, net om die klop so effe te laat bedaar. Nee, plat skoene is uit, daarvan kry ons genoeg in die sale tussen pasiente. Hakkies is in. Stilleto’s, as jy braaf genoeg is. En ek was.
Die ouderdom kruip snags langs, oor en in jou bed om jou te omsingel en jou lyf in te val sonder dat jy dit weet. Jy staan een oggend op en wéét jy is nou klaar met daardie hoge goed wat jou kuite soos boklammers laat spring snags. Platter is beter vir die gesondheid van die voete, so sê die boeke en die wyse mense. Ons knik ons koppe en stem saam. Gooi al wat ‘n hak is uit en begin leersandale en kuise skoentjies dra. En as die kinders net wéét wat hulle aan hul gesondheid doen en aan hul voete!! Oe!
Die moeder van die bruidegom verseg om beige te dra en om haar mond te hou. Sy praat en gee raad en koop en deel uit en soms wil-wil dit lyk of sy bietjie handuit ruk. Sy besluit ook om almal te skok deur nie ‘n rok te dra, maar ‘n nommertjie te laat ontwerp wat ‘n broek insluit. Oe! Wat sal die familie sê? Maar die moeder van die bruidegom steur haar min. Vir die okkasie wat gaan plaasvind op ‘n terras wat afloop na die dam waar die plegtigheid sal plaasvind, kies sy ‘n hogere paar stilleto’s. Bedags dra sy vir rukkies, klein rukkies, hierdie paar swart blinkleer stilleto’s met die mooi materiaal strik op die toon. Net om weer die gevoel te kry. Soms is die ‘gevoel’ nie daar nie en wil vooroorval die oorhand kry. (Ek weet nie wat ek gaan doen as die hakkies in die terras wegsak nie. Maar dit is die ou voor of agter my se probleem.) Dis hoër as hoog op hierdie hakkies. Soveel so dat die voetjie voor in die skoentjies inprop en die tone behoorlik opbondel. Maar dit gaan daagliks beter. Die krampe snags is al minder.
Die loop na die plegtigheid op die oewer van hierdie dam gaan op ‘n helse afdraend wees. En die dam is diep. En die dam is vuil. En die dam is nat.
En Stilleto’s het nie brieke nie.