Digkuns > Skryftegnieke

Tipografiese wit

(1/4) > >>

Meraai vannie Baai:
"Tipografiese wit" - nog 'n slypsteen in die hand van die digter.

Soos met gewone spreektaal, laat ons die leser hier rus tussen woorde met die gebruik van 'n dig-element, (in my gedig se struktuur - wit spasies) meestal sonder die gebruik van leestekens.
 
Gewoonlik word die Caesura aangedui met '||' om gedagtes op te breek:
 
"To err is human; || to forgive, divine." by Alexander Pope
 
Hierdie tegniek kan ook op 'n paar ander maniere toegepas word vir ritme en konstruksie, met of sonder leestekens. Hier is my voorbeeld:

Ek skuil agter skimmel gedagtes               
            'n valse geborgenheid verduister
            die teisterende beelde van gister
wat geil rys uit gekisde verledes

© Meraai vannie baai

(Skimmel gedagte is met opsie as aparte woorde geplaas sodat die boustene van die gedig
gekonstruktueerd voorkom met die toepassing van tipografiese wit.)

*******************************

En hier is adéle se pragtige voorbeeld soos wat sy die skryftegniek toegepas het:

Stortreën     spoel leegtes
tussen hemel     aarde     helderskoon
donker dreunings     rammel saam
met elk bliksemstraal neer;
in die veld kruip wesens
diep     ver     weg,
riviere     oorstroom
honderde meters ver
en net soms     kleur die uitspansel
agter die son se warmte deur.

© adéle

********************************
 
PM se Liefdesspel

jy is die wind

ek  is die blaar
wat jy ligtelik
argeloos      speels
    en geswind
voor jou laat dartel
        swiep
     en sweef

in jou asem     se hygende krag
       laat jy my soms styg
           soms daal
totdat ek val en sidder
        ontredderd
voor die windstilte beef
‘n plant aan sy stingel
          geknak
maar tog voort  bly leef

kyk hoe ritselend
speels van die pret
maak jy ‘n warrelwind
van die los blarenet
  en  let nie op mý
wat jy bewustelik wreed
eenkant laat bly lê het nie
        want
met my kan jy speel
en my ligweg vergeet
soos ‘n kind in sy spel
vêr weg van wéét

ek lê eenkant
en wag vir jou lag

as jy dalk vlugtig
     tersluiks
na my kyk
dan glinster my oë
en ek ontluik
soos eenmaal
toe jy my laat dartel
     en draai het
lustig getol
en vreugdevol
geswaai het

jy  wend jou na my
   en ek weet
dat jy ons ou-oue spel
nooit sal vergeet nie

© PM

PM:
Hierdie tegniek het vlam gevat, bykans almal gebruik dit al.  Dit werk uitstekend.

Meraai vannie Baai:
As die ouens die woord 'google' behoort daar ook heelwat inligting op te spring PM. Jou en Adele se plasings was pragvoorbeelde!

Ah Willa:
Verstaan jan-alleman dit? 

ek sal graag die drie voorbeelde voorgelees wil hoor - ek is nie seker ek het dit nie ...

Meraai vannie Baai:
Hierdie tegniek kom tot sy volle reg met voorlesing. Wanneer jy dus so gedig skep, is dit skryf, luister; skryf luister. Seker maak die woorde wat jy wil laat hang, is op die regte plekke geplaas. Die spasies werk soos die rusteken in musiek. En soos met alles, het dit die mooiste inpak as jy dit spaarsamig toepas.

Elkeen se skepping sal uniek wees, en soms sal die leser voel dat daar iets met die ritme skort met die toepassing van die witspasie (stilte).

My voorbeeld was bloot 'n konstruksie-gedig waar ek die spasies as onsigbare boustene toegepas het, sodat reël 1 en 4 dieselfde lengte het en so dan ook die twee middelste reëls. As jy hierdie gedig sou voorlees, sal die rusperiode beslis nie werk nie - daarom moet jy as skrywer meld dat dit 'n konstruksie-gedig is.

In Adele se gedig is hierdie reëls vir my die mooiste voorbeeld:
in die veld kruip wesens
diep     ver     weg,

Lees dit nou self hardop: Die klem val op diep .... dan word 'ver' uitgerek en aan die einde daarvan word 'weg'  kortaf uitgespreek. Na die komma hier, rus die stem net 'n sekond en gaan dan voort. Persoonlik sou ek die volgende reël aanmekaar laat vloei tot by 'ver', en dan is die volgende rus vir die stem, weer perfek toegepas vir voorlesing.

Elke persoon se uiteensetting sal verskil want die skepper 'voel' sy gedig en woorde bring verskillende emosies na vore wat beelde skep waar hy/sy verkies om 'n spasie in te bring.

NB: Die opbreek van reëls (tipografiese organisasie) in versvorm is 'n baie belangrike toepassing van spasie. Wanneer ons 'n boek oopmaak, is die samestelling en toepassing van witspasies dikwels sonder dat ons eers gelees het, die bewys van prosa of poësie.

Vryeverse is die ideale ABC resep om 'n woorddis saam te stel wat die leeskliere prikkel, en 'n oogfeeservaring vir die leser inhou met die opbreek van verse/strofes van verskillende versreëls.

Navigation

[0] Message Index

[#] Next page

Go to full version