Author Topic: Daai sloot  (Read 9489 times)

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Offline Naas

  • Global Moderator
  • Hardebaard
  • Posts: 1848
  • Gender: Male
  • K.N.A.P. (Kan Naas Afrikaans Praat of wat?)
Daai sloot
« on: February 13, 2012, 07:52:31 PM »
Daai sementsloot! Dis nou die een tussen die posduifklub en die Bergrivier, al langs die Dassieskool se draad af. Waar hy sy water vandaan kry weet ons tot vandag toe nie. Hy kom net daar uit die grond en eindig stomp op die rivierwal.
 
Daar was altyd water in die sloot. In die somer was dit weliswaar net genoeg om die sloot se bodem nat te hou. Maar daar was water. Die gedurige nattigheid het daarvoor gesorg dat dit pal met grasgroen mos bedek was. Die mos het daai sloot se bodem glad gemaak. Amper so glad soos 'n graad aggie se mond. Seepglad, verseker ek jou.
 
Die sloot was so om en by twee meter wyd en so anderhalf meter diep. Om in die sloot regop te staan was amper net so moeilik as om “push ups” te doen met jou tong terwyl jou hande agter jou rug vasgemaak is. Om daarin te loop was so 'n klein bietjie moeiliker. Nou kan jy jouself seker voorstel hoe moeilik dit was om met jou fiets in die sloot af te ry. Enige energie wat spandeer word om die pedale te trap sit om in 'n groen GT-streep van jou kroontjie al langs jou ruggraat af tot waar jou boude die fiets se saal ontmoet, en enige vorentoe momentum neig na zero.
 
In hierdie sloot het ons dus ure se pret gehad met ons fietse. Gewapen met klein Japie se stophorlosie, wat hy na een of ander atletiekbyeenkoms in sy baadjiesak gekry het, het ons “quotter maail sprints” in die sloot gehou. Wit verf wat uit pa se motorhuis verdwyn het, het wederregtelik in 'n wegspring en eindstreep op die kante van die sloot verskyn. Die vinnigste tyd tussen die twee strepe is gemeet. Aan die begin het dit nie saak gemaak as jy bo-oor of onder jou fiets oor die wenstreep gly nie want die renne het min of meer as volg verloop: Sit die fiets versigtig in die sloot op sy wiele. Terwyl twee of meer van jou maats die fiets regop hou, klim jy versigtig “rodeo style” van bo af op die fiets. Dan hou jy aan die kant van die sloot vas met jou een hand vir balans. (want die fiets se wiele gly sommer sywaarts onder jou uit as jy nie oppas nie) Gereed!......... Gaan! Trap.... trap.... GT streep, gly... val.... bloei... skuif oor die wenstreep met fiets en al.
 
Soos dit in alle sportsoorte die geval is kom daar met oefening wysheid en beheer. Ons het later besef dat hard trap die wortel van al die kwaad is. Om suksesvol op die slym te ry moes jy stadig en saggies wegspring. Die oomblik as jy haastig raak is dit gly... val.... bloei...ens. Na vele verlore velle en kneusplekke kry jy dit reg om die groen sloot te tem. Begin stadig, tel stadig spoed op, konsentreer op balans en hoera!..... jy’s by die eindstreep verby en nog op die fiets met al jou velle. Nou moet jy stop, rem.... gly... val.... bloei... skuif oor die einde van die sloot, binne in die rivier met fiets en al. 'n Nuwe reël sien die lig. As jy nie veilig stop voor jy in die rivier val nie tel jou tyd vir die “sprint” nie.
 
Nodeloos om te sê het ons met oefening ook die stop vervolmaak. Daar in die sementsloot is 'n paar slymslootkampioene gebore. Toe niemand meer val en bloei nie was die “sprint” nie meer 'n uitdaging nie. Ons moes nuwe uitdagings gaan soek.
 
Toevallig was die sloot ook deel van ons volgende uitdaging. Tussen die Dassieskool se draad en die rivier was daar 'n kronkelpaadjie wat die sloot oorgesteek het. Waar die kronkelpaadjie oor die sloot gaan was daar aan weerskante 'n stewige kleiwal wat hoër as die sloot was. Die moontlikhede vir nuwe uitdagings is dadelik deur lede van die waaghalsbende besef. Daar moet met die kronkelpaadjie langs gery word ten einde genoeg spoed bymekaar te maak om die fiets met sy passasier deur die lug oor die sloot te lanseer. Eenvoudig.
 
My eerste poging was, baie beskaafd gestel, een mo.... helse gemors. Ek gaan haal aan uit Hospitaalstraat, dis waar die paadjie begin het, en stoomroller tussen die bosse deur al in die kronkelpaadjie af. Soos ek die sloot al vinniger nader hoor ek my maats se aanmoediging en uit die hoek van my oog sien ek dat selfs 'n paar van die dassies die petalje met afwagting gadeslaan. Genadiglik is die laaste stuk voor die kleiwal afdraand want ek raak al moeg. Toe ek egter die kleiwal slaan maak ek 'n fatale fout. Ek kyk op. Ek kan nie die sloot sien nie. My keel trek toe en my vingers volg hul eie logika, hulle gryp die remme. Genadiglik werk die fiets se remme nie so goed nie. (al die val in die sloot het daartoe bygedra) Ek verloor dus nie te veel spoed nie. Die volgende oomblik is ek op die kleiwal. Ek sien die sloot en ek besef, nou moet ek maar spring. Ek lig die fiets se voorwiel en styg op. Ek is vry, ek vlieg.
 
Die aarseling voor die sprong het my egter 'n halwe meter gekos. Net omtrent die voorste tiende van die fiets se voorwiel maak dit oor die sloot. Die res van die voorwiel steek vas teen die bokant van die sloot se wal. Nou kom hier allerhande wetenskaplike wette in werking soos onder andere Newton se wet van traagheid van momentum.(of so iets) Omdat sekere dele van die fiets se voorwiel reeds stilstaan, terwyl die res van die fiets nog teen die spoed van wit lig voortsnel, word die fiets se saal en alles wat daarop is op en oor geslinger. So verbreek ek dan my noue verhouding met die fiets en sit die reis allenig voort. Gelukkig was die kleiwal aan die ander kant nog sag na die vorige jaar se reën want ek val 'n duik in hom. Ek moet darem erken dat ek die trek deur die lug baie geniet het maar die skielike stop teen die kleiwal was nogal onaangenaam. Ek sal dit nie aanbeveel nie. Toe ek nou myself uit die duik in die kleiwal bevry het, gaan soek ek my fiets. Ek kry hom onder in die sloot. Die voorwiel is so gebuig dat enige ordentlike Puc Man onmiddellik troukoors sal kry as hy die wiel sien. Ek moes ook die vurk vervang omdat sy kromming na verkeerde kant toe wys.
 
As my ma moes uitvind hoekom ek die volgende drie weke skool toe wou stap sou sy nie so mooi verouder het nie. Stres doen lelike goed aan 'n mens se vel.
 
Dit is nou al dertig jaar later en ek dink met deernis terug aan daardie dae toe ek nog, sorgloos en vry, my lewe in my eie hande kon neem en dit oorleef. Het ek 'n beskermengel gehad? Was my tyd maar net nie daar nie of is dit so dat ons net meer fisiese krag en uithouvermoë gehad het.
 
“Pa, ek wil gaan fliek in die winkelsentrum.”
 
My keel trek weer toe. Ek sien pedofiele in die gange sluip, dwelmhandelaars op die roltrappe, verkragters wat in die toilette wegkruip, sakkerollers wat selfone en handsakke uit die kinders se hande gryp, ouens met maskers en lang messe, gemaskerde sopbene met handkanonne ens. Ek staal myself want die kinders sit heeldag in die huis vasgekeer tussen skoolwerk en rekenaars.
 
“Wag, ek vat jou nou weg. Wie gaan almal saam? Watter fliek gaan julle kyk en hoe laat kom julle terug? Moet ek jou maats ook gaan optel of kry jy hulle daar? Het jy genoeg geld? Is jou selfoon gelaai? Bel my dadelik as daar enige probleme is.” “Julle verlaat nie die sentrum sonder toestemming nie.” ens. ens.
 
Ek laai hulle by die sentrum af en gaan wag by die huis. My selfoon is gelaai en lê gereed langs my. Ek lees elke bladsy van my boek drie keer. Ek kyk die glas van my horlosie vaal. Ek bid dat hulle lekker sal vlieg terwyl hulle vry is van hul ouers se bande en ek vra dat die kleiwal waarteen hulle dalk moet stop nog nat is van laasjaar se reën.
 
Ek kyk in die spieël..... Stres doen lelike goed aan 'n mens se vel.


 :icon_bigsmurf:
Ek is maar net een, maar ek ís een.

Meraai vannie Baai

  • Guest
Re: Daai sloot
« Reply #1 on: February 14, 2012, 12:14:06 AM »
Gehang aan jou lyne en die laaste beelde wat jy geskep het is ook diekant van die aardbol 'n nagmerrie en plooimasjien vir enige groot- en ouers Naas :crybaby2:

Offline PM

  • Administrator
  • Meester
  • Posts: 9696
  • Gender: Female
Re: Daai sloot
« Reply #2 on: February 14, 2012, 04:56:10 AM »
Dit is hoe dit is.  Die lewe is 'n glip-en-gly-sloot.  Gly... val... bloei... maar staan maar weer op en gaan voort.  Dit is dan sekerlik ook hierdie "losbandigheid" wat 'n ou die "durf en daad" gee om te "vryval".  Mag die wal sag wees, van laasjaar se reen. 
Om te weet is om te verstaan.

Offline Trapsoetjie

  • Regular Members
  • Penkop
  • Posts: 606
Re: Daai sloot
« Reply #3 on: May 09, 2012, 01:30:51 PM »
Ek het hulle gaan aflaai, maar self by 'n ander deur in geloop. Hulle gevolg soos 'n wafferse speurder. (was nogal goed, hulle het nooit enige iets vermoed tot ek eendag my mond verby praat)  :evil6:


Dit klink soos lekker dae Naas, waar jy jou eie arm en been kon breek sonder om aangeval te word, behalwe nou deur 'n kleiwal wat nog nat is van laasjaar se reen.... :evil6:

 :angel12: