Griet
Na die skildery van Johannes Vermeer : Girl with a Pearl Earring - 1666
Griet meisiekind,
jy is dan skaars sewentien
jou lyf, jou vel nog jonk en broos...
sou jy kon raai
dat pyn kon kepe kerf
daardie dag toe die lem se punt
na jou toe draai?
Jy kyk mesmeries na my
sien ek 'n traan?
jou oë diè van 'n gewillige uitgelewerde
Maar hoe sou jy kon raai?
Jou rooi geswelde hande van was en wring,
water uit die kanaal kombuis toe bring
het jy weggesteek van lig en oë
net nie vir hom, daarmee het jy verf gemeng
in sy skilders-ateljee
en daardie dag toe hy vir jou die doeke hou
ook die kobalt een, en sê;
'Draai dit om jou hare'
het hy geweet ook jy
dááronder skuil 'n ander Griet
die een wat jy vir hom wou gee.
In die solder agter slot
het jul in stomstil liefde gebaai
die vrede het deur die venster
oor die Oude Langendijk gewaai
Maar onder teen die houttrap
het 'n adder gewaak
Die pêrel, Griet, was 'n mes se lem
wat vlymskerp sou sny tot op die been
- jul't dit geweet -
Sou jy kon raai dat in jou stille gang
jy soveel pyn onwetend saai?
In sy palm lê die pêrels
rondglad en koud
jy het sy blik gevang, geen woord
net stom gebewe van verraad
en die gaatjie in jou oor gedruk
vir hóm
lippe sag en klam gelek vir sy skilder's oog
en 'n traan van pyn en hooplose liefde,
het jy sy blik beantwoord
met 'n duim oor jou fyn gelaat
het hy jou traan gepink, jou lippe aangeraak
jy't jou sout geproe
Met die pêrels in jou oor
(sag lê die gryswit teen jou blanke nek)
het die lem gesny, Griet, vroukind
en jy èn hy
het toe geweet
die stilte was verbreek.
In geelbruin en kobaltblou
teen pikswart gekwas - verewig -
het hy jou met hààr pêrels gekroon
brokaat, pels en pêrels
was nog altyd jou kleinmeisie droom
In hààr palm lê die pêrels
gryswit druppels soos haar traan
'n wêreld daarin vasgevang
haar siel was rou
terwyl die mes se lem een laaste maal
sou sny vir hààr haar siel sou kerf
sý Laaste Wens was vir jou besit
Mesmeries staar ek na jou
Griet, weemoedig kindvrou,
sou jy ooit kon raai
hoe soet én suur
die verbode vrug sou smaak?
++++