Het julle gesien hoe hang Piri Weepu, die Haka-leier en sy spanmaats se tonge uit op die einde van die Haka?
Die kamera het so gefokus op Piri Wiri dat ek nou nie juis die ander ouens se tonge kon inspekteer nie, maar Piri s’n was maar vaal. Dit het behoorlik langs sy kakebeen afgehang! En hulle het nog nie eens begin speel nie! (Met Captain Courageous in die voorlyn, het ek beslis nie die ander se tonge dop gehou nie). Sjoe, wat ‘n klomp robuuste manne!
Die Haka, wat ‘dans’ beteken, word nie net sommer aan die begin van ‘n Nieu Seelandse rugbywedstryd gedans nie, hulle Haka ook vir vrede, eenheid, goeie en donker tye. In die begin van hierdie jaar toe ‘n aardbewing Christchurch getref het, het die land se inwoners klokslag om twaalfuur ge-Haka om hul meegevoel met die stad se burgers te toon.
Die geskiedenis van die Haka is baie interessant. Toe Abel Tasman in die 17e eeu die eiland bereik, het hy dit ‘Nieuw Zeeland’ genoem. Die Maori’s het hulle nie vriendelik verwelkom nie en dit het in ‘n volskaalse oorlog ontaard. Tasman het sy boot se neus omgedraai en gevlug.
Eers in die 18e eeu het James Cook die tog aangedurf na die eiland en die Britse vlag op die noordelike eiland geplant. Toe hulle teen die kus op vaar, het ‘n klomp Maori’s in hulle waka’s gespring en agterna geroei terwyl hulle die destydse Haka op die bote uitvoer. Die Britte was vreesbevange, maar dit was eintlik ‘n vriendelike verwelkoming.
Die Haka is ook voor en tydens oorloë uitgevoer en is met die jare telkens aangepas. Dit was tradisioneel nie om te verwoes nie, maar om wreed voor te kom en die vyand af te skrik. Diè wat daaraan deelgeneem het, het hul oë omgedop tot net die wit wys en dan hulle tonge uitgesteek totdat die kleintongetjie sigbaar was. Moes ‘n verskriklik gesig gewees het.
Die beroemdste weergawe van die Haka is die ‘Ka Mate!” wat die rugbyspelers voor hul wedstryde dans om hul opponente te intimideer. Maar die Hane, nogal hand-in-hand, het hulle nie van stryk laat bring nie en het in die vorm van ‘n spies se punt, met hul kaptein heel voor, die All Blacks gewys hulle skrik nie vir koue pampoen nie. Hulle het die All Blacks amper op hulle dinges gegee. (En daai Piri Wiri het nie so goed geskop nie).
Die woorde van die hedendaagse Haka in Afrikaans :
Tot die dood! Tot die dood!
Op lewe! Op lewe!
Tot die dood! Tot die dood!
Op lewe! Op lewe!
Versigtig! Daar is ‘n harige man
wat die son laat skyn!
Een tree hoër!
Nog ‘n tree hoër!
Een tree hoër!
Nog ‘n tree hoër!
Die son skyn helder!
Kan nie dink dat dit ‘n intimiderende song is nie, maar nouja, met omgedopte oë en vaal tonge wat langs hul kakebene afhang, ‘n streep getrek oor die keel, (wat verbied is by vandag se wedstryd) kan iemand dalk net bang raak.