Recent Posts

Pages: [1] 2 3 ... 10
1
Adéle se plek / Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Last post by adele on Today at 03:14:11 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 5

Amper twee weke later het Donnie vir Dorothy toegedraai in ‘n groot, sagte kombers, huis toe geneem en haar ‘n rukkie in die tuin laat sit.

“Pappa, asseblief, ek is nou so moeg vir mure om my.” Sy was ook moeg gelê, maar dokter Sarel het haar gemaan om nog baie te rus. Sy het na daardie eerste aand nog baie gesukkel met koors wat gekom en gegaan het en haar herstel vertraag het. Nou moet haar longe eers kans kry om ordentlik te herstel. Sy sal seker nie teruggaan skool toe nie, maar haar werk tuis inhaal en vir haar graad een-toetse sal hulle nog ‘n plan beraam.

Donnie het net die eerste drie dae omtrent heeltyd by die hospitaal gebly, daarna het hy weer begin werk, maar Rita was heeltyd daar. Hy het die saak met Hannah bespreek en hulle het besluit om Rita soggens aan te stel. Donnie kan doen met hulp, want met al die funksies en naderende vakansietyd, is hulle baie besiger as wat hul die hele jaar was. Dit het Donnie ook tyd gegee om sy kind met haar skoolwerk te help. Sy wou net heeltyd teruggaan skool toe, maar was tevrede toe sy hoor sy gaan in elk geval ‘n rapport vol goeie punte kry. En die vakansie sou vir haar heeltemal te lank voel, maar Donnie was net te dankbaar sy is beter.

Die Saterdag na die skool gesluit het, het ‘n verrassing op Dorothy gewag. In die stilligheid het Hannah ‘n klaspartytjie vir die graad een’tjies gereël en toe Dorothy haar oë uitvee, daag amper al haar maats daar op. Dis ‘n gekuier en gespeel en ‘n heerlike etery. Hannah laat hulle ‘n paar speletjies speel. Donnie kyk na haar en wonder hoe dit sal voel om haar te soen, haar regtig vas te hou. Hy skud sy kop, maar hou haar dan weer dop. Hoe gaan ek vir haar dankie sê vir alles wat sy hierdie jaar vir ons gedoen het, dink hy.

Sondae-oggende was hulle gewoonlik saam met Hannah in die kerk. Geen etes is in die middae bedien nie, maar tussen twee-uur en sesuur was hulle oop vir koffie en soetgoed. Vandag is hulle ekstra besig en Rita en haar man, Thys, kom loer in. Donnie is maar te dankbaar toe sy inspring en ‘n uur of wat help.  Toe hulle sesuur sluit, nooi hy hulle om saam te eet. Hy en Thys gesels altyd lekker.

Dis al laat toe hy eindelik in die bed klim, maar hy is nugter wakker. Hy wonder oor Hannah, oor die toekoms en oor die middag wat sy so mooi gelyk het. Stadigaan besef hy dat daar nie meer vir hom ‘n toekoms kan wees sonder haar nie. Hy wil nie sonder haar lewe nie. Hy wil haar lief hê!

Grote griet, Donnie, jy moet jou kop laat lees, dink hy. Vinnig staan hy op en gaan haal vir hom ‘n glas yskoue sap in die kombuis. Hy gaan sit op die stoep. Dis amper volmaan en die sagte silwer strale speel in die tuin. Hy dink aan die jaar wat verby is en aan alles wat hy vermag het. Kan hy nog ‘n jaar aanbly? Moet hy nie op ander plek gaan werk soek nie?

Maar dan, hy sien nie kans om weg te gaan nie. Buitendien, waarheen? Hy kon nie vroeër werk kry nie en niks in die land het verander nie; inteendeel. En waar sal hy weer ‘n skool kry wat soveel vir kinders beteken as hier, dink hy verder. Hy gaan klim weer in sy bed, maar dis baie laat toe hy aan die slaap raak.

‘n Paar aande later is hy besig om die buitedeure te sluit, toe Hannah inkom. Hy wou haar eerder vermy, maar dis vakansie, dus is sy buitendien heeldag tuis en help kort-kort vir hom en Rita wanneer die plek vol besoekers is. Dorothy slaap al teen hierdie tyd.

“Donnie, kan ek ‘n beker milo kry? Asseblief?” Donnie knik net en haal melk uit die koelkamer. Wanneer hy teenoor haar sit, elkeen met ‘n beker milo, weet sy nie hoe om te sê wat sy op die hart het nie. Dan maar sommer reguit praat, dink sy.

“Sal julle Woensdagaand saam met my stad toe gaan? Ons vra Rita en Thys om hiernatoe te kom. Hy kan haar help en ons gaan teater toe.”

Donnie is stomverbaas. “Hannah?  Hoekom ons? Jy het al ‘n keer of drie hierdie jaar ‘n opvoering gaan bywoon, maar saam met ‘n vriendin of twee. En buitendien, ek skuld jou soveel vir alles wat jy vir ons gedoen het, nou wil jy ons saam nooi?”

“Donnie, wanneer sal jy besef dis jy wat soveel vir my gedoen het? Sonder jou sou ek hierdie plek moes sluit, weet jy? Niemand anders sou so alles ingesit het en my droomplek so gewild gemaak het nie.”

Maar Donnie is nie tevrede nie. Hy wil nog ‘n verskoning bedink, maar kry niks nie. Hy weet dis omdat hy nie kans sien vir die intimiteit in ‘n motor en langs haar in die teater nie, al sou Dorothy ook tussen hulle sit. Hannah sit hom net en aankyk en wag vir ‘n antwoord, maar toe hy niks sê nie, sê sy:

“Dan is dit reg en afgespreek.” Sy is al in haar kamer, toe Donnie eers opstaan.

Hy stap kamer toe. Die nag strek lank voor hom uit en hy rol net rond. Met dagbreek se eerste skynsel staan hy op. Hy het sy en Dorothy se posisie van alle kante af beskou, beplan, geskuif en tot net een gevolgtrekking gekom.

Woensdag kom Rita eers na die middag in, soos sy met Hannah afgespreek het, en sy jaag Donnie omtrent uit die koffie-kombuis uit om homself in teater-‘mood’ te kry, soos sy dit noem.

“Toe nou, niks se geskerm meer nie, Donnie. Wat pla jou in elke geval?”

“Niks,” sê Donnie sag, maar Rita is ouer as tien. Sy skink vir hulle koffie in stap na die sithoekie toe.

“Donnie, kom drink koffie. Ek het ‘n lepeltjie heuning bygevoeg om jou te kalmeer.”

Donnie gaan sit oorkant haar en blaas oor die koffie in sy hande.

“Wat pla jou? Vandat Hannah vanaand se uitgaan gereël het, is jy gespanne. Is jy bang vir die donker?” skerts Rita, maar dan voel sy die erns in Donnie aan. “Donnie?”

“Rita, sal jy volgende jaar hier kan oorneem? Ja, ek glo jy sal kan,” sê Donnie skielik saggies maar ernstig.

“Wat? Is jy nou simpel?”

“Nee, ek ... ons ... Rita, ons gaan weg. Ek het reeds plek in die stad gekry en moet teen middel Januarie daar wees. Sal dit reg wees met jou?”

Rita kyk hom stil aan terwyl iets in haar binneste kriewel.

“Nee, ek is jammer, maar daar is geen kans dat ek Januarie hier kan oorneem nie. Jy weet, ek en Thys gaan na Nuwejaar na ons kinders toe en in die Suid-Kaap toer. Ons beplan om eers einde Februarie terug te kom. Dalk nog later.”

“O, ek het nie geweet nie. Dan sal ek maar net iemand anders moet soek, tydelik, as jy later wil oorneem, want ek weet nie van iemand anders wat dit beter as jy sal kan doen nie.”

“Nee, daar is nie sprake van so iets nie. Vir wat wil jy nou gee pad? Niemand sal ooit hier kan doen wat jy kan nie.” Rita pleit amper.

“Sommer, daar is nie ander keuse nie,” sê hy nog sagter. Hy staan op en stap uit.


©adéle theron
2
Adéle se plek / Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Last post by adele on August 17, 2019, 10:15:23 PM »
‘n Kersfees se Wonderwerk ... vervolg hfst 4

Die dae het besiger geraak. Na die Maart-vakansie het Hannah-hulle hul idees omskep in arbeid en haar koffie-kroegie opgedollie, soos sy gesê het. Die oorspronklike grys-wit-kleurskema met spatsels turkoois, is vervang met warm kleure. Die winter lê voor, het sy besluit, en die nuwe voorkoms moes die herfstuin na binne weerkaats. Donnie het dit so beplan, dat die plek met enkele veranderings, in die somer weer die koeler voorkoms van die tuin sal uitstraal. Bolle is ook aangeplant, sodat lenteblomme ekstra kleur in die tuin sal inverf.

Meer toeriste het moeite gedoen om af te draai soontoe en mense het keer op keer teruggekom. Donnie het woord gehou: hy het die plek die gewildste in die geweste gemaak. Hannah het met ‘n geruste hart haar aandag op die privaat-plaasskool toegespits. Vandat die tuin vol blomme is, kom sy elke middag daar

“Juffrou, tannie Hannah? Hoekom is juffrou so besig?” vra Dorothy een middag.

Hulle sit in die tuin. Dorothy help haar om papierblommetjies teen geskenkboksies te plak. Hulle hou nou gereeld funksies in die tuin vir jaareinde en selfs klein onthale. Donnie wil haar wegstuur, maar Hannah keer hom.

“Sy pla nie, Donnie. Eintlik het ek nou haar hulp baie nodig, anders gaan ek nie alles klaar kry voor volgende week se afskeidsfunksie vir die graad sewes nie.” Dan kyk sy na Dorothy.

“Weet jy, wanneer mens iets vir iemand wil doen omdat jy baie lief is vir daardie een, of groepie mense, dan wil jy alles insit om dit ‘n sukses te maak. Jy wil dit doen omdat jy wil hê die ander moet gelukkig wees en dit geniet. Hulle moet nooit voel asof jy iets net doen om iets terug te kry nie.”

“Is dit hoekom ons alles so goed moet doen en net die beste voetjie vorentoe moet sit?” Dorothy vra dit met soveel erns, dat Donnie net begin lag.

“Nee, my kind, iewers val jou woorde nou verkeerd. Om jou beste voetjie voor te sit, beteken dat jy ‘n goeie indruk wil maak, maar dat dit dalk nie so sal bly nie.”

“Bedoel Pappa dan nou dat ek nie altyd nodig het om my beste voetjie eerste vorentoe te sit nie?”

Hannah glimlag ook, maar probeer haar verder reghelp.

“Dorothy, ons sê beste voetjie voorsit. Dit beteken nie jou beste voetjie moet die eerste tree gee nie. Dis sommer net ‘n manier om iets te sê. Ons noem dit ‘n spreekwoord.”

“Ag watookal.” Dorothy het nie lus om haar nou te bekommer oor woorde en sinne wat nie sin maak nie. Haar gedagtes is alweer by iets anders.

Hannah worstel met ‘n probleem. Sy wil vir Donnie en Dorothy een aand stad toe neem. Op so ‘n manier dankie sê vir hierdie jaar se hulp en raad en harde werk wat meer was as waarvoor sy Donnie kan betaal, dink sy. Maar hoe? Hy is so trots, en dan afsydig ... daardie enkele oopmaak-oomblikke koester sy, want elke keer het hy weer toegeslaan en weggeskram.

Die Saterdagoggend daarna begroet hulle met heerlike dik wolke en sagte reën. Donnie wag al vir Dorothy in die kombuis, maar sy daag nie op nie. Later stap hy vinnig na hulle kamers toe om haar te gaan soek. Hy kry haar in haar bed, waar sy kermend rondrol. Vinnig sak hy langs haar op die bed neer en vat haar aan haar arms.

“Dorothy, meisiekind, komaan word wakker.” Hy dink nog sy droom, toe besef hy sy is vuurwarm van koors en deurmekaar.

Donnie skrik hom yskoud. Wat gaan aan ... wat staan hom te doen ... waarheen ... ? Dan ken sy voete net een pad, na Hannah toe. Dis nog vroeg en sy kom hom in haar nagklere teë.

“Donnie?”

“Dorothy is siek, daar’s groot fout. Kom kyk asseblief,” sê hy half uitasem.

“Sy moet onmiddelik hospitaal toe, ek gaan aantrek. Bring my kar vorentoe,” sê sy toe sy voel hoe warm die kind is. Terwyl sy aantrek, bel sy haar dokter ook en dié stem in om hulle daar te kry.

Later die oggend, nadat Dorothy opgeneem is en reeds binneaars behandeling kry, sit Donnie langs haar bed. Hy bid in stilte tot God en smeek Hom om sy kind te bewaar.

“Here, sy is dan al wat ek het.”

Hannah het net gaan kyk of alles by die skool aan die gang is en toe teruggegaan hospitaal toe. Later het sy ook gereël dat ‘n vriendin by die koffiekroeg gaan help. Rita help gereeld vir Donnie wanneer dit baie besig raak.

Teen laatmiddag is Dorothy se koors nog nie regtig gebreek nie en Donnie weier om huis toe te gaan. Hy het nog niks geëet nie en net ‘n koeldrank of twee gedrink. Hannah praat weer met hom.

“Donnie, jy kan niks hier doen nie. Sy is nou in goeie sorg. Kom saam, dan eet jy net iets. Ons kom dadelik weer terug.” Maar hy weier.

“Ek kan haar nie los nie, Hannah. Sê nou net ... sê nou ... wat as sy iets oorkom en ek is nie hier nie?” Dan kom dr Sarel weer daar aan.

“Donnie, Hannah, sy het longontsteking. Al die toetse wys daarop en dis erg, die dat haar koors so hoog is. As dit nie binne ‘n uur breek nie, gaan ek haar oorplaas Bloemfontein toe”

“Maar waar kom dit vandaan, Dokter?” vra Donnie verward. “Sy het nie verkoue gehad nie.”

“Nee, dis nie van verkoue nie. Dis nou maar net iets wat gebeur het. Mens weet nooit waar kom enige so iets vandaan nie. Maar omdat julle haar dadelik gebring het, kon ons gou met behandeling begin. Ek glo ons gaan haar koors binnekort afkry sodat sy kan beter word.” Hy verduidelik die behandeling en werking van die medisyne aan hulle en gee ekstra opdragte aan die saalsuster.

Hannah besluit om eers vir Donnie iets te ete te gaan haal. Sy moet ook alles toesluit sodat Rita his toe kan gaan. Donnie weet nie wat om te doen nie. Hy gaan sit weer langs Dorothy se bed en sluit sy oë. Sy gebed is innig en smekend.

“Vader, net U weet hoe om haar te help. Gee dat elke druppel medisyne net tot haar voordeel sal wees. Hou haar hier vas, en laat U wil geskied.”

Donnie weet dat om haar na Bloemfontein toe te laat gaan, onmoontlik is, want hy het nie spaargeld daarvoor nie. En om haar in daar in een van die staatshospitale te laat opneem, is ondenkbaar. Dan kan sy liewer hier onder Sarel se sorg bly.

Hannah kom later terug en met moeite oorreed sy Donnie om iets te eet. “Komaan, dit help nie as jy uitgeput raak as sy jou nodig gaan hê nie.”

“En dan gaan jy huis toe en gaan rus, asseblief Hannah,” sê hy. “As sy dan môre beter is, dan sal ek gaan, maar nou bly ek hier.” Hannah weet nou al dat teëpraat nie gaan help nie.

“Belowe net jy gaan bel sodra daar enige verandering is, goed of sleg,” sê sy. Hy knik. Hannah wens sy kan hom styf vashou, hom net laat insien hoeveel hulle vir haar beteken; dat sy net so bekommerd is oor Dorothy. Maar Donnie het klaar weer gaan sit. Sy draai om en stap uit, haar oë vol trane.

“My Vader, wat is U wil, wat wil U hê moet met ons gebeur? Ek het die man nou lief gekry, gaan dit verniet wees?”

Die nagverpleegster het aan Dorothy al die aandag gegee wat sy kon. Dokter Sarel het laataand weer kom inloer. Dorothy se koors het wipplank gery, maar na drie uur stadig begin daal en teen dagbreek het sy haar oë oopgemaak. Moeg het sy gewonder waar sy is en wat aangaan. Trane het oor Donnie se wange begin loop toe hy haar versigtig vasdruk. Daarna het hy Hannah laat weet.

©adéle theron
3
Digformules of -strukture / Re: 'Newspaper Blackout Poetry'
« Last post by Assie on August 08, 2019, 06:44:45 AM »
Ta Raaitjie en Outop moet die ruskans voluit geniet. Ons sal julle mis want dis maar stil hieso sonder julle. :mumum:
4
Digformules of -strukture / Re: 'Newspaper Blackout Poetry'
« Last post by Meraai vannie Baai on August 07, 2019, 12:36:38 PM »
As dit nou die volgende drie weke lank voorkom of ek 'n 'black out' het - geen rede tot kommer maters. Ons gaan die wieletjieshuis hak en kus langs toer vir welverdiende breekkans van Vrydag af. Hou die blinkkant bo ... ek kom weer aansit om te loer wat is intussen in die woordsandput geskep.
 :love7: :notworthy: :hello:
5
Pret met woorde / Re: Forum-spreekkamer
« Last post by Meraai vannie Baai on August 06, 2019, 09:34:27 AM »
Nog 'n paar niese later en toe moes ek eers gou by die forum-spreekkamer inloer. Lagpilletjies het nog altyd die ding gedoen vir my. Drukkie vir elkeen wat hier aangedoen het, of verby kom hoor!
 :coffee2::love7:
6
Ons gaan die volgende drie weke weer bietjie wegloop en ek besef vandag weer watter wonderlike medikasie is hierdie kosbare voorreg opsigself! Selfs die 'uitsien' voel of ek 'n dubbeldosis-voorskrif ontvang het!

7
Adéle se plek / Re: Varinggroen oë
« Last post by adele on August 05, 2019, 02:27:33 PM »
Jip jip nog 179 dae as die Here my spaar
8
Adéle se plek / Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Last post by PM on August 05, 2019, 02:27:01 PM »
 :love7:
9
Adéle se plek / Re: Dorothy se wonderwerk vir kersfees
« Last post by adele on August 05, 2019, 02:26:10 PM »
Hoooopglo so hoor
10
Adéle se plek / Re: Varinggroen oë
« Last post by PM on August 05, 2019, 02:25:14 PM »
Gaan jy dan aftree lief vriendin?
Pages: [1] 2 3 ... 10