Die Afrikaanse Forum

Die kuierstoep => Kom kuier saam => Topic started by: PM on May 06, 2020, 02:28:22 PM

Title: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 06, 2020, 02:28:22 PM
Ons hekke is "toegemaak" vir enige besoekers of werkers van buite.  Binne in Leeupoort is daar geen inwonende werkers nie. 
Ons is aangewese op ons eie pogings en ek moet sê, dit is nie maklik vir 'n ou met hartversaking nie. 
Daar is nie 'n manier wat een van ons twee ou spoke op die leer kan staan om geute skoon te maak nie. 
Ditl lyk darem of die reenseisoen nou verby is.  Ons is egter te dankbaar vir dit wat onshierdie jaar ontvang het. Ons bos was pragtig groen en ons diere is vet.   :icon_salut:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on May 06, 2020, 11:10:14 PM
Aaklige tydperk in ons almal se lewe. Vir ouens wat geseend is met goeie gesondheid is dit verseker 'n reuse aanpassing om so vasgekluister te wees. Vir diegene met kroniese ongesteldhede is die lewensrobot in alle gevalle heeltyd rooi. Stop. Besin. Bly tuis. Pas aan by die nuwe normaal is inderwaarheid vir ons 'n bietjie makliker want hartversaking (onder andere) het alreeds vereis dat soveel aanpassings en aanvaarding van liggaamlike beperkinge gedoen moes word liefste mater.  Ek het innige simpatie met jou. Midde covid 19 is dit te verstane dat daar ekstra voorsorg getref moet word want skielik besef jy hoe weerbaar die mens is.

Ons mis die kuiertjies van die kinders en kleingoed fiskriklik en natuurlik is die ouma en oupa se hart stikkkkint en terselfdertyd ook verheug - ons oudste seun en sy vroutjie se eersteling is die 1ste Mei 2020 gebore na 16 jaar saam. Pragtigste ou prinsessie en nie een van die familie kan by hulle wees nie. Gelukkig leef ons in die tegnologiese wonder eeu.

 :notworthy: :hello2: :love7: 

Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 07, 2020, 01:17:46 PM
Baie baie geluk.  Ek glo sy sal vir julle almal nog baie vreugde bring. 
Jy is reg, die tegnologie maak dit effens makliker. 


Die jong gesonde persone staan nog 'n kans.  Ongelukkig is die ouens (soos ons) wat op die krukkelys is, in groot gevaar. 
Dit sal net soveel makliker wees as almal die reels en regulasies nakom. 
Ek sien NZ se gevalle is mooi in die groen.  Hoe lyk dit daar by julle?

Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: adele on May 15, 2020, 03:47:10 PM
Die sosiale media is vol hiervan .... en baie antwoorde het dieselfde strekking. Hulle wil asseblief teruggaan werk toe. En die wat werk? Hulle begeer dalk ook 'n week tuis.
Ek is tuis, na jare se kantoorwerk het ek gewaag om op 62 jarige ouderdom, met pensioen uit te tree. Dink net, as ek vooruit kon sien, sou ek dalk nog aangebly het want my salaris was drie maal meer as my pensioen. En ek sou in elk geval merendeels tuis moes bly. Is ek spyt? Nie een oomblik nie! Uiteindelik kan ek weer leef ... nie net bestaan nie. Maar ek kry skaars kans vir dingetjies waarna ek so lank al uitgesien het want om weer huisvrou te speel, is en bly 'n voltydse 'job'
Dis huis en tuin en handgee op die plaas tussen die beeste en kallers, dis naaldwerk en net-daar-wees wanneer Chris geselskap-koffie soek .... jaaaa, ek bly besig. Maar wat ek die meeste geniet is om in my Bybelhoekie stil te raak. Te lees, te luister na preke van drie minute tot 'n uur lank. Gospelmusiek deur my hartsmure te trommel ... en les bes, te bid.
Al wat ek mis is daardie oggende se geselskuiers by vriendinne waarna ek jare lank uitgesien het. Maar ter wille van hulle, bly ek tuis en gesels ons oor die eter, virtueel, internetprentjies (so irriterend) en gebede vir elkeen.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 16, 2020, 01:47:28 PM
Matertjie, hier waar ons woon is Timbaktu.  Ons is redelik veilig.  Almal bly tuis en as ons kos nodig het dan maak ons beurte om Thaba toe te gaan.  So, ons is almal gesond en dus kuier ons maar so 'n klein bietjie oorkant die pad.  :angel12:   Dit is net 'n grondpaadjie en ons hoef nie te skreeu nie.   :angel4:


Ek het 'n bietjie agter geraak, wie is Chris?




Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on May 19, 2020, 12:11:45 AM
Genadiglik begin ons hierdie kant van die aardbol nou stelselmatig terugkeer na die leefwyse van drie, vier maande gelede. Mag nou 150km ver reis maar nie oorslaap nie. Die outbacks mag 500km wettiglik aanpak maar moet ook vanaand terug wees aan't huise  :icon_biggrin: :dontknow: Skole heropen eerskomende Maandag. Tot nou kon jy kies tussen tuisskool of kids skool toe stuur as jy essential-worker was/is.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 19, 2020, 11:40:00 AM
Hier by ons praat hulle van fase 3, dalk nog hierdie week.  Ons is in Limpopo met lae gevalle van infeksie.  Ongelukkig, soos alles in SA, moet jy maar wag en sien.  Die ergste is die vreeslike dors.   :angel12:  Ons sit nou al twee maande sonder 'n ou rooietjie of enige ander drankies.  Of ons slim katjies nou die drankwinkels gaan oopmaak is 'n ander saak.  Die swartmark floreer soos nog nooit van te vore nie.  Almal in die stede kry natuurlik enige drank teen 'n prys en sigarette is oral op die hoeke beskikbaar, natuurlik ook teen 'n prys.  Intussen verloor ons miljoene aan belasting. 
'n Mens sou nou dink dat in hierdie tyd van ekonomiese stress, elke ou geldjie welkom sou wees. ? ? ?


Nou hoor ek hoeveel ouens maak hulle eie wyn en as dit nou suksesvol is, wie gaan dan wyn koop as die winkels oopmaak?   :icon_biggrin:


Kos pryse is soveel hoger, dit lyk of almal sommer gou die verliese wil opmaak.  Verlede jaar se R25 per sakkie lemoene, is nou R55.00.  Vat maar of los maar!  R30 vir 'n kleiner as klein blomkooltjie?  Eish!


Ek mis net my enigste kind hier in SA.  Hy is in Gauteng en die grense is gesluit.  Ek maak nie beswaar teen die grense nie, dink dit is baie goed, maar oeee, die verlange!  :crybaby2:


Ons het nog nie uitsluitsel oor skoolgaan nie. 




Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 20, 2020, 09:29:28 AM
Gehoor dat ons skole vir graad 7 en 12 vanaf die 1ste Junie oop gemaak word. 


1577 skole is gevandaliseer gedurende ons "lockdown".  'n Paar vet katte het kospakkies gesteel en op die swartmark verkoop.  Welkom in SA?
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on May 22, 2020, 06:31:08 AM
Diekant van die aardbol was ons baie gelukkig (?) in die opsig dat die voggies en gifpyle nie verbode geword het nie want met al die spanning van werkloosheidsyfers en kostes van alles en nog wat, wat die hoogte ingeskiet het is die aantal 'domestic violence' gevalle hartbrekend midde die steeds beskikbaarheid van hierdie 'hulpmiddels'.  Dan is daar nog die mammas wat skielik tuis die taak van juffrou/meneer moes aanpak en glad nie voorbereid daarop was nie en het die skink van voggies ook vermeerder en die ure vervroeg volgens navorsing. Hoe hierdie syfers sou vertoon indien Australia opgetree het soos Suid Afrika wil ek liewers nie eers aan dink nie.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 22, 2020, 11:21:53 AM
Eish ja!  Met ys en koue water.   :mumum:


Ons misdaadsyfer is baie laer, maar dit is asgevolg van polisie en weermagpersoneel wat die strate vol is.  Dit het niks met drank te doen nie. 


Dit klink asof ons binnekort sal oorgaan na fase 3, maar of dit nou 'n sopie en 'n "smokey" gaan insluit sal ek nie weet nie.  Dankie tog ek rook nog steeds nie.  Dit is nou sewe jaar!  :icon_cheers:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on May 22, 2020, 12:03:51 PM
WOW! Knak die knieg en lig my hoed vir jou PM! :love7: :hello2: :notworthy:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on May 22, 2020, 12:17:45 PM
Dankie Raaitjie.  Ek was altyd bang ek raak soos een van die ander nie-rokers wat piep kry as iemand naby  jou rook.  Gelukkig nie.  Ek staan net 'n bietjie nader en vra:  blaas tog 'n bietjie diekant toe dat ek net kan snif!   :icon_biggrin:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on May 24, 2020, 11:05:57 PM
 :headbang: :icon_biggrin:

Lees ek vanoggend hierdie raak: LOL - Low On Liquor.  Skielik kry 'laugh out loud' 'n heel nuwe baadjie in die gevreesde, mees gehate, soms belaglike sinnelose gogga-beperkinge.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Naas on June 01, 2020, 07:09:21 PM
Ek moes ook noodgedwonge maar die pensioenpad vat. DSit was of dit of onbetaalde verlof tot aan einde van virus met gepaardgaande verlies in pensioen wat al klaar maar min is.
Ek is dus van vandag af inkomsteloos. My pensioen is eenmalig en net genoeg om my huis en motor klaar te betaal. So vir alle praktiese doeleindes is ek 'n werksoekende pensioenaris.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on June 02, 2020, 05:36:46 AM
Naas ons dink aan jou mater. Nare nare situasie en finansiel het die miljoene mense geknak. Genadiglik het Outop nog werk maar waar die aftree ouderdom ons oor drie jaar sou omsingel sal hy nou moet aanhou werk solank die kragte en verstand hou. Ons pensioenbeleggings is letterlik opgevreet deur hierdie gogga!
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Assie on June 03, 2020, 08:56:41 AM
Oupa sê:
Wanneer die hoendermis die sifdraad tref kruip al die hoeders weg vir die stront. Dis dan wanneer die haan koring kraai en die hele boerdery oorneem en die plaas in sy peetjie in boer.

Maar hier op die plaas is ons gelukkig vêr van die sifdraad so ons kyk maar hoe die appelbome met hulle kaal vingers na die wolke ryk. Een van die dae is die koue winter oor, dan sit die bloeisels weer wit en kan ons weer 'n lewe maak.
Sterkte vir algar van julle en wees asseblieftog veilig daar innie stede.

 :mumum:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on June 12, 2020, 11:05:53 AM
Ek dink as daar 'n woord is wat die trofee van - meeste gebruik - sal wen, is dit Covid 19. Ek het so pas weer Shernobyl se geskiedenis gelees en besef dat covid die koek vat. 
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on June 14, 2020, 11:30:46 AM
Ek stem 100% met jou saam PM en Assie jou oupa is 'n baie wyse man!
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Assie on July 12, 2020, 06:48:08 PM
Ek praat nou as Naas.
Ek is bietjie bang.
Een van Elmarie se verpleegsters is laasnag oorlede aan Covid-19. Elmarie is ook besig om al sieker te word. Sy het nie Covid simptome nie maar ek is nie gewoond daaraan dat my vrou siek word nie.
Ek weet nie of ek naie sal gesels die volgende paar dae nie want ek sukkel self met seer keel.
Hopelik is dit maar net die gewone verkoue want ons het naie slegte weer gehad en ek moes moodgedwonge n paar keer in die reën uitgaan om mense in nood te help.
Lief julle almal.
God seën

 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: adele on July 13, 2020, 08:25:47 AM
Al wat ek met my stil asem hier kan fluister, is dat ons aan Christus vashou, die Soom van sy Kleed in ons vuiste vasklem. Ek sê nie meer iets soos pas jouself op nie, almal doen dit na die beste van ons vermoë, maar ons gedagtes hardloop elke dag die paadjie by al ons vriende langs ....
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on July 14, 2020, 07:44:36 AM
My hart het nou beats geskiep soos nog nooit van tevore. Naas, ons dink aan julle mater. Sal saam bid dat dit niks ernstig is nie. Asb as jy kan, hou ons op hoogte. 
:love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Assie on July 14, 2020, 03:39:22 PM
Soos dit nou maar eenmaal is moet Elmarie eers toestemming van 'n dokter kry met bewyse dat sy 'n noodwerker is anders kan sy nie getoets word nie. Die toetssentrum is oorvol geboek so sy kan eers Woensdag 'n afspraak kry. Die uitslag kan dalk langer as 'n week vat om terug te kom. Intussen moet ons maar so tussen hemel en aarde hang.

 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on July 15, 2020, 04:43:23 PM
Ons hou vir julle duime vas Naas.  Suid Afrika het nou heeltemal ontspoor. 


Ek wil ook nie graag uit my beurt uit praat nie, maar hier by ons op die hoek woon vriende van ons.  Tannie Sarie het verlede maand haar 80ste verjaardag gevier.  10 dae gelede het sy gegaan vir hart toetse, maar voordat sy toegelaat mag word, moet sy getoets word vir Covid.  Daar toets sy toe positief, sonder simptome natuurlik.
Sy word in afsondering geplaas by die hospitaal, vier dae later word sy ontslaan en tot vandag toe nog is sy gesond.  ? ? ?


'n Aner vriend van ons is dood in 'n motorongeluk en voorwaar, sy vrou is baie verontwaardig, want, sy doodsertifikaaat stipuleer die oorsaak as Covid ?


Ons het so pas met Naas gepraat.  Hulle wag nog vir uitslae, maar dit lyk of alles goed gaan met hulle.   :hello2:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on July 15, 2020, 11:51:51 PM
Duisend dankies vir terugvoering oor Naas en Elmarie! Hulle is gedurig in ons gedagtes. Ek kan net my kop skud oor die tante wat opgeneem is en nog steeds gesond is. Ek het gelees van 'n persoon wat se familielid selfmoord gepleeg het en op die doodsertifikaat was aangedui dit was a.g.v die virus. Die familie het aangedring dat dit verander word en gedreig met hofsake. Die uitspraak: Jy kan probeer, ek volg net die minister se opdrag.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on July 16, 2020, 02:33:34 PM
Die bloedtoetse hier is nou tydelik gestaak.  Die loboratoria is toegegooi onder die "bloed"  :icon_biggrin:  en kan nie die pyp rook nie.  Steeds groei ons getalle by die duisende en niemand sterf meer aan iets anders nie.  Ons hou maar die oog op die horison.  Dalk Reijger daar 'n Drommedaris vir De Goede Hoop.  :dontknow:


Dit gaan ons 'n Walvis en 'n Oliphant kos.   :read2:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Naas on July 16, 2020, 06:09:10 PM
Elmarie raak al sieker. Haar toetsuitslae het gekom en dit is beslis positief. Ek self is onseker maar vermoed het klaar aangesteek. Ek trek nou maar more na my seun toe met die hoop dis nog nie te laat nie. 
Dit was seker onvermydelik want maak nie saak hoe versigtig mens is nie die mense rondom ons vee hulle agterente af aan die gevare.
Dinsdagoggend is een van Elmarie se verpleegsterd dood agv covid nadat sy vir amper twee weke geweier het om getoets te word want sy het volgens haar net verkoue. intussen het sy talle mense loop en aansteek.
Hier in die Kaap is die mediese sorg nogal redelik op die ball maar die publiek is onverantwoordelik.
Ek gaan nie lieg nie... Ek is bang.
Probleem is dat my dogter en haar dogter (my kleinkind) nou onlangs haar man en al haar skoonfamilie verloor het. sy is self in gevaar omdat sy obees en diabeties is met bloeddrukprobleme. Sy het nou ook simptome want hulle twee het gedurende lockdown by ons gebly.
ons is dus in vir n interresante tydjie.
As ek stil raak is ek of besig om te baklei of ek is nie meer nie.
Ek lief julle almal. wees asseblief veilig.

 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: adele on July 17, 2020, 05:31:41 PM
Ek kan ook nie ontken dat ons bang is nie, maar ek moet iets sê .... het dit hier by ons vriende en ander ook gesê, eintlik is niks anders as ons elkedaglewe nie, hoe kon ons weet of ons more nog die son sien opkom? Maar hier is dit soos kanker, ons kry kans om ons genade wat God vir ons gee, waarvoor Christus gesterf het, met meer as net ons twee hande aan te gryp sodat as ons siek word en Hy ons neem, ons dinge reg moet wees. En die belangrikste is dat ons soos die rower aan die ander kruis moet sê, Here, dink aan my ook.Vergifnis is die volgende belangrikste van alles. As ek hier my oë vir laas toemaak, moet ek 70 x 7 keer vergewe het.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on July 22, 2020, 11:50:35 AM
Naas, ons dink aan julle.  Hou ons asseblief op hoogte van sake.  Ons is lief vir julle. 
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on July 22, 2020, 10:46:45 PM
Ek het gou kom loer of hier enige nuus is van ons geliefde mater. Ons dink aan julle Naas en Elmarie  :love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on July 23, 2020, 02:00:24 PM
Dit is asof iets al die lug uit my longe kom spat het.  Ek treur nog steeds oor my Ouma Naas en wat gebeur nou?  Ag nee!  Naas, wat gebeur nou?  Ek bel jou gou!  Ag nee, net een bobbejaan wat oor 'n heiningpaal hang?   :crybaby2: Geen antwoord nie!  :icon_bigsmurf:   
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Assie on July 24, 2020, 07:38:29 PM
Ek rapporteer dat Elmarie nog siek is maar sy het net ontsteking in een long agv covid. Sy is baie moeg en rus maar verder is dit nie so erg nie. My toets van Maandag was negatief. Ek bly om die oomblik by my seun om seker te maak dat ek nie by Elmarie aansteek nie. My dogter se dr het haar nie eers getoets nie maar sommer besluit sy is positief omdat sy simptome getoon het nadat sy met Elmarie in aanraking was. Sy is egter naie gesond en ons vermoed dat haar simptome ontstaan het agv die gebruik van sanitizers waarvoor sy allergies is
Ek is tans sonder inkomste en probeer maar om n geldjie uit my werkswinkel te verdien so hoor nie altyd my foon deur die geraas nie en het ook nie baie data om mee te gesels nie.
Weet asb ons is tans ok en dat ek sal laat weet as dinge verander.
Lief julle en wees asb veilig.

 :mumum:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on July 24, 2020, 08:55:58 PM
Baie dankie dat jy laat weet het Assie.  Ons dink aan julle en is baie dankbaar dat dit goed gaan.  Ek hoop dit gaan steeds goed en dat ons net goeie nuus van julle kant af sal hoor.  Ons is baie lief vir julle en seg tog asseblief vir Elmarie dat ons haar elke dag in ons gedagtes hou. 
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Naas on July 27, 2020, 09:19:40 AM
Elmarie is van vansag af nie meer aansteeklik nie. Sy hoes egter nog baie so ek glo nie die teorie nie. Deur die genade is ek sover gesond.
Ons kan dus stadig maar seker terugkeer normaal toe.
Dankie vir al julle omgee en gebede.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on July 28, 2020, 08:37:55 AM
Mater, julle is gedurig in ons gedagtes en gebede. Dankie so baie baie vir terugvoering.  :love7: Pas julle self mooi op groot asseblief.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on July 30, 2020, 01:29:38 PM
Dankie Vader!  Ons is so dankbaar!   :hello2:   Dankie vir die goeie nuus.  Hoop alles sal net beter en beter gaan.   :love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: adele on July 31, 2020, 03:58:44 PM
Covid bring my gebede baie nader, in my hart, aan vriende vir wie ek lief is. Baaaie dankie Naas, ek is so bly Elmarie is soveel beter  :love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on August 03, 2020, 03:36:11 PM
My liewe man het nou eers weer van die trappe afgeval.  Hy moes hospitaal toe om extrale te neem en sy skouer weer terug te sit in sy potjie.  Met slegte harsingskudding moes hy maar huistoe kom, want daar is nie plek in die hospitaal nie.  Niemand mag ook saam met 'n pasient ingaan nie.  Dit is 'n goeie voorsorgmaatreel, maar dit is sleg vir die familie. 
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: adele on August 03, 2020, 04:17:42 PM
Sterkte en drukkie vir jou vriendin, groete vir manlief
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on August 04, 2020, 12:49:43 PM
Dankie matertjie.   :love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 04, 2020, 10:54:14 PM
 :crybaby2: Ag nooit, stuur asb spoedige herstelwense aan jou wederhelf lief PM. 'n Ongeluk gebeur soooo vinnig! Sterkte aan die verpleegster ook  :love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on August 05, 2020, 10:14:35 AM
Dankie Raaitjie.  Ons is so afgesonderd "afsydig" hier, ek het julle omgee baie nodig.  Dit is goeie medisyne vir 'n kwaai aanval van selfbejammering.   :icon_biggrin:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Naas on August 05, 2020, 02:54:17 PM
Arme Hannis. Maar dis mossie die eerste keer wat hy vir jou val nie. Julle moet versugtig wees.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 06, 2020, 12:58:10 AM
 :love7: Omgee-drukkies vir almal wat dit nodig het  :love7:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on August 06, 2020, 01:31:50 PM
 :icon_biggrin:   As hy maar net vir my wou val sou hy nie so sleg daarvan afgekom het nie.   :icon_biggrin:   Hy maak nou 'n gewoonte daarvan.   :crybaby2:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on August 18, 2020, 12:32:53 PM
'n Vriend van ons is die 1ste Augustus oorlede.  Hy was in die hospitaal en is met Covid 19 ontslaan.  Die 5de is daar vir hom 'n diens gereel en 80% van die ouens wat dit bygewoon het is gediagnoseer met covid.  My vriendin van 78 het gister vir ons laat weet dat sy nou gesond verklaar is en nie meer in "eensame opsluiting" is nie. 
Ons hoor al hoe meer van ouer mense wat gesond word.   :hello2:
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: Meraai vannie Baai on August 23, 2020, 11:30:38 PM
Ons jongste seun in Amerika het kennis gemaak met die nare gogga en kon tuis herstel so ook my skoonsus se dogter en haar man. Die vrees as jy hoor iemand het covid 19, is 'n nare ervaring maar soos jy tereg skryf PM, daar is al hoe meer gevalle waar mense volkome herstel.
Title: Re: Hoe raak covid 19 jou lewe
Post by: PM on August 24, 2020, 03:26:10 PM
Ons is baie dankbaar dat julle die hartseer ontglip het Raaitjie.  As 'n mens egter kyk na die sterfgevalle weet ons dat dit ernstig is.