Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on December 01, 2019, 05:18:19 AM

Title: Het jy 'n passie vir God?
Post by: adele on December 01, 2019, 05:18:19 AM
Vriende, goeie mooiste Sondagmôre vir julle!

Is jy betrokke by die werk van die Here?

Sowat ‘n jaar gelede het ek dit ook gevra en wonder nou hoeveel enige aandag daaraan geskenk het. Maar ek wil nog iets vra … het jy ‘n brandende passie vir God, vir die Evangelie van Jesus Christus? So ‘n passie dat elkeen na aan jou dit kan aanvoel?

Waaroor gesels jy met mense? Naweke langs die braaivleisvuur, is dit die nuutste sport? Gaan jul gesprekke oor na die politiek van die dag, dan ontaard dit gou in ‘n moddergooiery van skel en vervloekings, want vandag se politiek is onverstaanbaar, ondenkbaar en vat aan jou finansies.

Maar kan jy jou indink hoe opbouend ‘n kuier vir jou en jou vriende gaan wees, sou julle rustig staan en vleis braai, slaaie berei in die kombuis, of saam met jou tienervriende iewers in ‘n klub kuier … en dan met passie oor die Evangelie gesels?

Soek soos die Emmaüsgangers, om te verstaan wat met Jesus gebeur het. Eers het hulle elke dag daar langs die meer na Hom geluister, toe skielik is Hy doodgemaak en begrawe. Hoe nou? Jy het so ‘n rustige lewe gehad, elke dag se beplanning was in plek, elke dag op die pad het jou veilig gebring waar jy wil wees. Jou kinders of maats is so goed en oulik.

Dan loop iets verkeerd en dit pluk die mat onder jou uit! Jou ankers is weg, jou geloof (waarmee jy maar net grootgeword het) wankel omdat die passielose pilare in ‘n aardbewing gekraak het.

Toe vind Jesus hulle, nie hulle vir Hom nie. Nee, Hy het hulle gaan opsoek want Hy het geweet hulle harte soek na Hom, na ‘n verstaan van vroue se vertelling dat Hy opgestaan het. Hulle het oor Hom gedink, wou weet waar Hy is. Wat ‘n vreugde moes dit nie wees toe hulle Jesus herken het nie?

Vriende, dink aan Christus, praat oor Hom, vra na Hom en dan, wanneer Hy jou vind (want Hy gaan beslis kom) nooi Hom in jou huis in, in die binnekamer van jou hart en vra Hom uit, gesels met Hom oor sy Verlossing vir jou en God se plan vir jou lewe. En laat jou lewe na aan Hom, passievol oorloop sodat almal wat jou raakloop, ook daarna wil soek.

Maak julle Sondag mooi en geniet elke oomblik in God se liefde; deel dit ook uit aan elkeen by wie jy vandag verbyloop.
Title: Re: Het jy 'n passie vir God?
Post by: Anton Louw on December 07, 2019, 06:47:22 PM
Ek brand om te gesels oor die Evangelie, die goeie nuus van die werk van Christus.    Ek bevrees meeste mense wat ek ken deel nie hierdie passie van my nie.   Soek altyd 'n geleentheid om oor God en Jesus te praat, nie net om te deel nie, maar ook om te soek of daar iemand is saam met wie ek kan deel.

Deesdae maar uitdagend want die woord en boodskap word so besoedel en die Bybel op so menigte maniere word bevraagteken en eenkant toe geskuif om eerder plek te maak vir mense se persoonlike gevoelens en redenasies.

Maar ek roep elke dag na God en vergryp myself aan sy woord om Hom beter te leer ken en om Sy waarhede beter te verstaan sodat ek 'n lig vir Hom kan skyn in hierdie duistere wereld.
Title: Re: Het jy 'n passie vir God?
Post by: adele on December 08, 2019, 07:00:23 PM
Anton, ons deel dieselfde passie en (klink vir my) sien en ervaar min of meer dieselfde probleme in die verkondiging daarvan. Maar wees verseker, elke tree van ons saai 'n saadjie en God laat dit groei.