Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on October 26, 2019, 10:00:37 PM

Title: 'n Lied in die droogte
Post by: adele on October 26, 2019, 10:00:37 PM
Versvriende, goeie mooiste Sondagmôre almal!

Wie van julle ontwaak vanoggend met ‘n lied in die hart? Nee, nie ‘n gospel-lied of lig-klassieke wysie nie. Ook nie daardie irriterende reëltjie wat jy nie uit jou gedagtes kan kry nie. Nee, ‘n lewenslied soos dié van ‘n voëltjie; ‘n mossie, visarend of ‘n kanarie.

Bg het ek so twee jaar gelede geskryf, maar nou wonder ek hoeveel voëltjies is oor in die droogste droogtegebiede in ons land? Daar waar niks meer oor is in die veld nie, waar die vlaktes bar en kaal lê, waar Driedoringstruike horingdroog staan en verpoeier in die warm windstiltes en skaap sukkel om nog te asem. Slegs enkele klein kuddes met voer van veraf, geskenk, nog aan die lewe gehou word. Of verder Noord waar enkele groot bome nog groen wys, maar eintlik is dit die ergste groendroogte in jare.

Dan wil ek ook op my knieë neersak en vra, Here, hoe lank nog? Want Here, op plekke vanwaar voer geskenk is en honderde lorrievragte vol aangery is na daardie streke, raak dit nou net so droog, en Here, daar raak die voer ook nou klaar. En dit wat nog oor is, brand af omdat mensehand tog so lief is om onbedagsaam, doelbewus, als in vlamme te sien opgaan.

Here, hoe lank nog? Gee asseblief uitkoms, gee asseblief reën vir mens en dier, vir veld en vir dit wat daar moet oorleef, klein kruipend of groter tot dit wat rondvlieg en soek na kos. Ons weet mos dat U, deur net ‘n woord te spreek, lewe kan gee, herlewing kan gee en voorspoed dubbel soveel as voorheen, kan gee. Dit was Job beleef het, was nie eenmalig nie.

En Here, gee ons omgee vir mekaar, om saam met iemand wat ‘n traan sonder ‘n reënboog verloor, ‘n stukkie van Christus se Liefde te gee. Laat ons weer note vind om ‘n lied te sing, al is dit hartseer note tot U eer, tot U koningkryksgedagte. U Naam ter eer. Ons is mos geskape vir een doel:om Hom te verheerlik.

Daarom kom ons vanoggend na U toe in verootmoediging, met belydenis van ons sonde, of goedkeuring van ander se sonde, na U toe, Here. Ons vra vergewe ons, in Christus se liefde. Amen amen Here.

Geniet ‘n wonderlike Sondag!