Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on September 16, 2018, 09:00:20 PM

Title: Asem van die Here
Post by: adele on September 16, 2018, 09:00:20 PM
Goeie môre vriende

Vanoggend klim ek saam met die dag se stukke al uit die bed, want buite wag ‘n skildery wat gou wegraak agter die son se strale. Ek wil op die stoep gaan koffie en asem. Dalk die koffie bietjie dieper soetheid gee, en die vars lug deur my neus, asem vanself in my longe in. Om te asem, is om te lewe. Daarsonder is dit onmoontlik. Maar hoe haal ons asem? Is elke teug se intrek deur jou eie gedagtes en toedoen, of is dit God se hand wat oor jou is? Want deel van sy skepping is dat Hy ons geskape het om dit onbewus vol te hou. Dink net hoe onmoontlik sou dit wees as jy elke paar oomblikke gou eers moet onthou om suurstof in te asem …

Hier is dit nog koud. Die elke-oggend se rypkolle hou die luggie skraal en snydend. Teen namiddag verwarm die aarde so effens, maar voor dit kla-kwaliteit bereik, verkil die aande weer. En ek verkyk my aan die kleurverskynsels na die oos-horison, daar oor die berge heen.

Gaan vandag op ‘n toer, vriende. Gaan soek na iets wat sy liefde vir ons en die natuur, die mooi in sy skepping, jou aan herinner. Jy sal nie ver hoef te stap nie, dan sal jy soveel wonderwerke sien. Blomme, selfs die kleinste veldblommetjies in die droogte, kleure, geluide van voëls of beweging van wind. Of die stilste stil, want daarin sal jy Hom in jou gedagtes kan hoor. Ons is na sy Beeld geskape en ek wonder of Hy ook asmhaal. Ja, luister na die sagte beweging van sy bors waarteen Hy jou vashou. En geniet sy liefde vir jou. Weet Hy het jou baie meer lief as wat ons mensgedagte kan besef, en wees lief vir Hom met jou hele siel en verstand en krag. Gaan dan heen en wees vir jou naaste lief soos wat Christus ons beveel het om hulle lief te hê … al is dit ‘n samaritaan van wie jy nooit wederkerige liefde sou verwag nie.

Evangelie-groete vir julle. Geniet hierdie sondag, die dag waarop ons sy opstanding elke week onthou en herdenk.

©adéle theron

Title: Re: Asem van die Here
Post by: Meraai vannie Baai on September 16, 2018, 11:11:07 PM
'n Mens besef eers hoe kosbare Voorreg asemhaal is wanneer jy pyn en ongemak ervaar met elke asemteug. Ek toer deur jou lyne en drink die mooi in saam met jou. Dankie vir deel mater. Geseende nagrus vir jou. Ons Maandag het 'n aanvang geneem diekant van die aardbol.
Title: Re: Asem van die Here
Post by: adele on September 17, 2018, 05:34:39 AM
 :love7:  Ek glo dit so goed, lief Raaitjie. Hoe gaan mens aan sonder God se liefde wat mense staande hou, ook julle wat so sukkel. Lannnng drukkie vir jou  :love7: