Die Afrikaanse Forum

Bak en brou => Resepteboek => Hoendergeregte => Topic started by: adele on December 21, 2012, 06:47:11 PM

Title: Oosterse Hoender
Post by: adele on December 21, 2012, 06:47:11 PM
OOSTERSE HOENDER

Gaan kuier een oggend vroeg in ’n supermark of ’n Econo Foods en soek deur die hoenders na die een wat vars en lekker lyk. Indien hulle almal oud lyk of toegeys is    :nono:    gaan soek ’n pakkie vars dye, lekker spekvet.  

Wanneer jy tuiskom, ontspan en laat jou voete ’n halfuur rus.   :sleepy1:  
Gaan sny nou daardie hoender in porsie-stukke - as jy ’n heel hoender aangekoop het- anders gebruik jy die dye.
Strooi sout oor die stukke en laat dit eenkant staan.

Kry jou sif en sit dit in ’n enemelskotteltjie.
Soek jou ouma se kwartkoppie en meet daarmee eenkwart-koppie meelblom af en gooi dit in die sif.

Gaan krap tussen jou speserye en kies die volgende om te meng - meet dit mooi af maar gebruik ’n knertsie meer as jy wil:

Een halwe teelepeltjie hoenderspeserye.
Nog ’n halwe teelepeltjie naeltjies - as jy nie halwe teelepeltjies het nie, moet jy die helfte van ’n vol teelepeltjie se speserye terugkrap in die houertjie.
Skep een vol teelepel droë mosterd, skraap dit bo-op plat en gooi by.
Soek weer ’n halwe teelepeltjie en skep daarmee ’n bietjie tiemie.  
Gooi al die halwe teelepeltjies speserye en die mosterd by die meel.

Skud nou die sif om alles te laat deurval en meng dit goed.

Trek nou die hoenderstukke nader. Tel een vir een op en rol dit in die droë bestanddele.  Pak  almal in ’n oondvaste glasbak. Dit is nou daardie glasbakke wat nie bars wanneer die oond te warm word nie. Of gebruik ’n oondkastrol. Laat dit eenkant staan.

Gooi nou die volgende lekkertes bymekaar om een heerlike lang sous mee te berei:

Een halwe koppie tamatiesous -  indien jy halwe koppies het, anders moet jy maar maak soos met die speserye, gooi die helfte van ‘n vol koppie se tamatiesous terug in die bottel.
Kies ’n lekker groot ui, trek die skil af en rasper daardie halwe koppie vol daarvan.
Soek nou twee kwartkoppies en vul een met blatjang en een met asyn. As jy net ’n heelkoppie het, vul dit saam halfvol daarmee.
Gooi een teelepel vol Worcestersous daarby.
Skep ’n kwartkoppie vol korinte en roer dit sommer alles tegelyk deurmekaar.                              
Gooi nog ’n bietjie sout by, net so knippie en ’n half en roer ’n lepelvol suiker ook daarby.

Gooi die sous oor die hoenderstukke en maak die bak bo-oor toe met foelie.
Los dit nou rustig tot so ’n uur en ’n half voor etenstyd sodat die sous die hoenderstukke kan inkleur.
Laat die oond dan matig warm word en plaas die bak met hoender en sous daarin. Maak die oonddeur toe.
Laat dit stadig prut tot sag en gaar.
Maak die oonddeur na een uur versigtig oop en koes vir die wasem. Haal die foelie van die bak af en maak weer die deur toe. Skakel die oond af.
Dien die hoender ’n halfuur later aan tafel op. Onthou om servette aan almal te gee om hulle vingers af te vee want hierdie hoender is vingerleklekker.

 :grommit:  
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: Meraai vannie Baai on December 22, 2012, 05:22:07 AM
Heheheh, speel ek skim-skim maar lees toe so lekker aan hierdie moet-boektoe-resep dat ek openlik wil kom stempel  los: EK HET GANIET Adele, en gaan beslis probeer. Net eers soek vir kwart-, halwe- en heelkoppies en - teelepels hehehehe. Ek sal onthou om die oond se deur toe te maak en te koes vir die wasems en net 'n knippie en 'n half sout te gebruik  :icon_biggrin: :love7:
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: adele on December 22, 2012, 05:57:21 AM
haai more, Meraaitjie-lief,
ons spot altyd as iemand vra vir 'n halwe glasie water of iets, het mos nie halwe glase nie... so lees ek annerdag deur hierdie ou reseppie van my [eertydse] skoonma af... sy was 'n koshuismatrone en met hierdie resep het ek gesien hoe daai koshuisbrakke letterlik hulle vingers aflek so met die geniet saam. sy het die hoender al van die vorige aand af in die sous laat lê.

 :grommit:
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: Meraai vannie Baai on December 22, 2012, 06:07:45 AM
Ek lees dit nou weer bloot vir die plesier daarvan en glo ons gaan beslis servette nodig he Adele  :love7:
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: PM on December 22, 2012, 09:10:49 AM
Ag heerlik, dit was pret om te lees en ek gaan dit beslis maak.  Dit kan net 'n wenner wees.  Dankie Adéle. 
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: Naas on December 22, 2012, 06:53:25 PM
Ons het so 'n Franse haan gehad toe ons nog plaasbrood geeet het. My pa het die ding maar later geslag want almal van ons was in verwarring in gekraai in die oggend. Nie een van ons kon juis verstaan wat hy kraai nie.
Moet se, my ma het hard probeer maar sy vleis het maar vreemd gesmaak.



 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: PM on December 23, 2012, 07:10:49 AM
Dit is omdat julle vergeet het om daai haan se kraai uit te sny. 
Ek dink hierdie resep kan enige haan se kraai afsny. 
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: Naas on December 23, 2012, 09:02:19 AM
Ja maar ons kon nie die twee volksvreemdes by mekaar uitbring nie.


 :icon_bigsmurf:
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: PM on August 08, 2020, 11:06:31 AM
Jy kan sien ek soek hoenderresepte.  Hierdie resep is 'n woordnagereg en ek het dit weer baie geniet. 
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: adele on August 08, 2020, 11:53:53 AM
 :toothy4:  he he, giggel ek ook nou weer hieroor. Geniet PM.
Title: Re: Oosterse Hoender
Post by: PM on August 10, 2020, 09:14:11 PM
Dit is regtig 'n groot plesier om deur die forum se gange te drentel, hier en daar 'n deur oop te maak, in te glip en saam te lees.   :love7: