Die Afrikaanse Forum

Digkuns => Diguitdaging => Topic started by: PM on November 17, 2012, 08:22:49 AM

Title: Toeka se gedigkompetisie "Die liefde"
Post by: PM on November 17, 2012, 08:22:49 AM
Ek het hierdie gaan opdiep en dit weer en weer geniet.  Dalk sal julle ook.  Langs elke gedig het ek die "wenplek" aangetoon.

Kleure van saffraan

Holderstebolder borrel binne
babbel sonder sinne,
vlinders wat wild fladder
my hartstogvanger

Kleure van saffraan
omraam die maan
Saffier blou oë, staar skaam
as jou hande my gesig omraam

Madeliefies in blom
bye wat om ons brom.
In die wolkehang
ons liefdesgesang.

© Trapsoetjies

Seisoene se liefhê

Mag ek jou liefhê net vir nou?

Mag ek jou wese in my arms toevou?
Ek kyk na jou met my oë blou en
sien die blink in joune, groen en grou.

Ek wil jou liefhê in jare wat kom en
vir jou gee, duisend rose wat donkerrooi blom.
In elke seisoen wat die natuur verstom
wil ek jou sien huppel en na my toe kom.

In die lente van ons liefde, ons twee se een wees,
wil ek elke dag jou diepe hunkering lees.
Kom somer se omgee saam met 'n Loffees, dan
gee ek jou 'n pant wat ons bind in die gees.

Op herfsblare wat dwarrel, skryf ek die woorde
waarmee ek jou saamnooi na eiland-oorde.
In die na-winter betree ons die Hemelse boorde en
saam gaan ons Hom loof met engele-akkoorde.

So, mag ek jou dan liefhê vir altyd en nou?
Mag ek jou styf in my arms toevou?
Jy lag na my met jou groen oë grou en ek
weet ek gaan jou vir altyd by my hou.

© Annie/Adéle

Swyg die maan  (Eerste plek)

Buite stil die sterrenag en
die wind hou asem op
Op 'n sagte dennenaaldemat
vou hy haar teen sy hartklop vas
Soekend streel sy lippe hare
vingerpunte vee haar sagtheid
tergend oor haar rondings,
dwaal oor haar, tartend . . .
in oorgawe swyg die maan

© Annie/Adéle

Seisoene van liefde

ek ruik jou in die somer
in die warm lug
waar jy en katjiepiering en sonsondergange
my hele wese vul

ek ruik jou in die herfs
as ons in die Boland loop
en jy vir my en jou ‘n cuppachino onder 'n
laning eikebome koop

ek ruik jou in die winter
in die knetter van ‘n houtvuur
waar ons liefde se herinnering-oomblikke
‘n ewigheid duur

ek ruik jou in die lente
as die bome se bloeisels blom
en jou troue liefde deur die jare my nog
elke dag verstom

© Lorraine

My lief

ek sien jou in die oopvou van ‘n roos

ek voel jou in die vlerke van ‘n vlinder

ek ruik jou in die val van 'n somerreën

ek hoor jou in die breek van branders

ek proe jou in die nektar van die gode

. . . . versadig met jou liefde . . . .

© Lorraine

Drome van gister   (Vyfde plek)

op ‘n reëndruppel se boggel
het jy my kom haal
sag neergesit op die sekelmaan
se silwer-blink straal

tussen sterre het jy my gewys
hoe mooi die liefde is
het jy saggies met jou lippe
my nek en skouers gekus

met hartstog afgegly tot op ‘n
waterlelie se blaar
my warm in jou arms toegevou
tot ons hartklop bedaar

in die soel na-nag lê ons saam
op ‘n katjiepieringblom
fluister jy jou verlange in my oor
net voor die son opkom

jou groot hande het my vrouehart
met warm liefde omsoom
beleef ek elke dag saam met jou
my siel se reënboogdroom

© Lorraine

Jy..,.

my lief -

my hart se punt

my vuur se rooi vlam

my siel se vyfgang-maal

ek’s ‘n halwe van ‘n hele

ek is ‘n vreemdeling

‘n uitgeworpene

identiteitloos

ontwortel

sonder

jou

xx

x

© Lorraine

Jy in My  (Vierde plek)

Van morestond tot klaasvakie se grond
Sal hul jou in my kreukelkamers kry,
In my hart en op my mond
Van morestond tot klaasvakie se grond
Loop ek heeldag met jou rond.
Jou wese vul my.
Van morestond tot klaasvakie se grond
Sal hul jou in my kreukelkamers kry.

© Naas

Liefdes virus

Toegedraai in die voue van my hart
Geknoop aan die soom van my siel
Ingebrand in die kluis van my gedagtes
Dansend en spelend in my oë

So neem jou liefde my oor

© Juenka

Passionato  (Tweede plek)

Beteken liefde
om op die strande van jou wese te loop
en jou entiteitsand tussen my tone te laat spoel?

Beteken liefde
om die motreën van jou hart
op my wange te hê
sonder om onnodig verdrink te voel?

Beteken liefde
om altyd jou sy te vul
en deurentyd die versadigheid
van jou glimlag te proe

sonder 'n enkele hongerpyn?

Beteken liefde
die soms skeeftrap
wat dalk die swelling van verskil
in my hart teweegbring...

maar môre is jy steeds daar?

Wel, dan verwyder ek my pantser
en verklaar

Ek is regtig lief vir jou

© Mel


Oxytocin

Jou voeling gebruik my
neutrale meganisme
en word swaartekrag
ongeldig verklaar

Jou impuls en my
kognitiewe breinlob paar

My motoriese funksie
ontbind sodra jy
sensueel my stimilus verken

Sal my kohesie-verslawing wen?

Die bloudruk van my hart ontbloot
My innerlike puntekaart oorskry

Wat het jy gedoen aan my?

© Mel

Harts passie  (Derde plek)

Smeulend sensueel
die vensters van jou siel
en meegesleur word ek
in die maalkolk in jou oë
deur  ʼn melkweg diep geboë,
glippend glad sag
verby konstellasies passievolle poele.

En as jou stem dan
soos  ʼn seebries sag
hier in my oor kom lê;
trrr rat doem trrr
die tromme van my hart,
doem di doem di doem
bons my hartstog troebadoer.

Fluweelsag, tastend, soekend
as jou arms, hande oor my gly
om met aanraking sag soos sy
en bruisend lawa-wit versengend,
storm passie deur die ravyne,
riviere van my siel.

En as die volmaanlig dan
silwer oor jou vloei, slapend,
dan word my wese lam,
gloei liefde hartspassie
koorsig in my siele spieëls,
om dan jou lippe
knussies aan my boesem te koester.

O jou lippe! O jou hande!
So sensueel oor my wese
te voel streel en vonkend elke
sinaps sensories te vervolmaak.

© Natalie-dominique
Title: Re: Toeka se gedigkompetisie "Die liefde"
Post by: Ah Willa on November 17, 2012, 09:17:45 AM
 :love7:
Title: Re: Toeka se gedigkompetisie "Die liefde"
Post by: Fransi on November 17, 2012, 06:46:46 PM
Pragtig. Nou mis ek sommer vir Mel.
Title: Re: Toeka se gedigkompetisie "Die liefde"
Post by: adele on November 29, 2012, 06:39:54 PM
dit voel soos tien dekades gelede   :love7:   ai, vriendin, soms verlang ek erg na ons forumkuiers [he he, het dit ons nie vreeslik baie omgee vir ander gegee nie?]

 :grommit:
Title: Re: Toeka se gedigkompetisie "Die liefde"
Post by: PM on November 30, 2012, 08:13:14 AM
O ja dit het en dit is nog steeds!  Ons is nou net 'n handjievol wat mekaar nog dra deur lief en leed, en dit is vir my kosbaar.