Die Afrikaanse Forum

Kom skryf saam in jou eie plekkie => Kom deel jou woordwerke => Adéle se plek => Topic started by: adele on September 12, 2012, 05:22:47 PM

Title: 'n rêrige kinderverrassing..
Post by: adele on September 12, 2012, 05:22:47 PM
skuus as hierdie elders gelaai is, maar ek kry dit nie. ek het gedink dit is al hier geplaas...

'n rêrige kinderverrassing..

Sy voel al heeldag siek. Die aand lê soos ’n berg voor haar, maar hoe kan sy nou kop uittrek? Haar mooi rok teen die kas smeek om gedra te word. Die skouerbandjies is met blinkertjies gelaai en die net, wat so skalks onder die soom uitloer, is wyd genoeg om ’n guitige skop in haar stap te gee.

“Marina!” Haar ma kom in die deur tot stilstand. “Wanneer trek jy aan? Jou hare … het jy al gestort?”

“Nee, Mamma.” Marina snik amper. “Ek is nog steeds naar.”

“Marina, ek gaan vir jou nog ’n pilletjie gee om die naarheid te probeer stil. Maar my kind …?” Marnette bly stil, laat die vraag in die lug hang. Haar bekommernis kry nie stem nie.

“Pappa wil graag spog met jou, my kind. Hy is so bly hierdie eerste jaar van jou op universiteit is verby. En daardie kêreltjie wag alreeds daar voor. Wat swot hy nou weer?”

Marina sit ’n oomblik regop en as sy weer asem haal, staan sy op.

“Bourekenkunde, Ma. Sy kop is van syfers aanmekaar gesit. Bring maar, Ma. Ek gaan gou stort.”

Marnette draai om. Haar hart knel van spanning. Hoe ernstig is die verhouding tussen hierdie Theo-outjie en Marina?
Ten spyte van haar moegheid na die hele dag se naargevoel in haar maag, geniet Marina tog die aand. ’n Paar van haar skoolvriende is ook daar. Sy en Theo het heerlik saam met almal gekuier.

’n Paar dae later sit Marina en haar ma onder die groot ou appelkoosboom.

“Ons het vanmiddag ’n afspraak by Dr. Peet. Drie-uur.”

“Ons? Ek en Ma? Hoekom?” Al is haar maag nog nie heeltmal gesond nie, voel sy tog baie beter.

“Sommer. Dr Peet ken ons al jare. Hy sal verstaan indien daar erge probleme is.”

Marina is nie regtig lus vir die ou dokter nie, maar sy praat nie teë nie. Wat maak dit tog saak, dink sy. Solank sy net heeltemal beter kan word voor Kersfees.

Nadat Dr. Peet haar buik hier gedruk en daar beluister het, vra hy belangstellend uit na haar lewe op universiteit. Dan skryf hy ’n voorskrif uit.

“Marnette, sy is erg gespanne en die naarheid is ’n simptoom daarvan. Marina, kalmeer nou hierdie paar weke wat nog voorlê, anders sit jy met ’n maagseer voor jou tweede jaar begin,” glimlag hy vriendelik na haar. Hulle staan op en Marina groet, maar Marnette stuur haar alleen uit.

“Gaan wag solank in die kafeteria. Ek wil net gou iets met Dokter bespreek.”

Dit is amper ’n halfuur later toe haar ma by haar kom. Marina wil iets te sê, maar sien dan dat daar groot fout is. Haar ma se ontsteltenis is verby voorgee. Sy is amper in trane.

“Ma?”

“Kom laat ons ry. Ek moet by die huis kom om met jou pa te praat.”

Marina kan nie dink wat haar ma so kan ontstel nie. Sy is negentien jaar oud, haar tweelingbroers is veertien en haar sussie, Rethe, elf jaar oud, maar sy weet dat hulle eintlik ’n heel gelukkige gesin is. Daar is nooit enige groot krisisse gewees waarvan sy weet nie. Tuis gaan Marnette dadelik kamer toe. Dit is nie lank daarna nie toe haar pa tuiskom. Hy stap vinnig by Marina verby, sonder om haar eers te groet. Dan verdwyn hy ook in hulle slaapkamer in.

Marina dek tafel en berei in stilte ’n ligte aandete. ’n Rukkie later storm die tweeling, Dawie en Hein, daar in.

“Sjuuuut!” vermaan Marina. “Hier is moeilikheid.”

“Huh?”

“Wat?”

“Ek weet nie, maar Pappa en Mamma is in die kamer. Sy huil.” Marina se trane sit ook nou vlak. “Gaan roep vir Rethe, dan eet ons solank.”

Hulle skep nog op toe hulle ouers ook by die eettafel kom aansit. Die kinders probeer hul verbasing wegsteek, maar slaag nie goed daarin nie. Hulle ma se oë is rooi, maar sy glimlag darem. Maar pa Theuns lyk asof hy ’n kis vol Krugerponde gewen het. Sy glimlag laat hom tien jaar jonger lyk. Dan vat hy sy vrou se hand vas, soos hy altyd maak wanneer hy seën op hulle ete wil vra. Wanneer die kinders hulle oë sluit, keer hy eers.

“Ons het nuus vir julle.”

Hulle kyk hom grootoog aan. Hy kyk weer na Marina, dan na elkeen van die ander.

“Julle gaan oor vier maande ’n boetie of sussie bykry. Julle ma is al amper vyf maande swanger. Oudokter Peet het dit vanmiddag bevestig.” Dan kyk hy weer na sy vrou en druk haar hand saggies.

 :grommit: 
Title: Re: 'n rêrige kinderverrassing..
Post by: PM on September 13, 2012, 07:23:18 AM
Jou skryftrant hou my altyd geboei en jy slaag altyd daarin om te verras met 'n "anderdsheid".  Haar bekommernis kry nie stem nie.

Die titel het my laat dink aan kinders en ek het heeltemal iets anders verwag. 
Title: Re: 'n rêrige kinderverrassing..
Post by: adele on September 13, 2012, 08:00:22 AM
hie hie   :icon_biggrin:   dalk moes ek die titel 'Babaverrassing' gemaak het, maar dit moet mos iets anders wees...

 :grommit:
Title: Re: 'n rêrige kinderverrassing..
Post by: PM on September 13, 2012, 08:18:06 AM
Ek dink juis die titel moet die inhoud verskuil.  Jy sal nog 'n bietjie moet kopkrap.