Die Afrikaanse Forum
Digkuns => Digformules of -strukture => Topic started by: Meraai vannie Baai on May 03, 2012, 05:37:06 AM
-
NB: Met die skep van gewone kwatryne (vierreël-verse) kan die digter na hartelus dig - daar is geen reëls aan verbonde soos met die Persiese weergawe :icon_salut:
'n Persiese of Oosterse kwatryn is ‘n vierreëlige, alleenstaande gedig en word in sekere kringe geskep met ‘n pregnante rymskema: aaba. Die derde versreël loop oor met enjambement na die slotvers (een van die eienskappe waarvolgens ons dan ook die kwatryn kan eien as ʼn Persiese Kwatryn).
Heelwat skrywers skep veelvuldige verse en kan hierdie verse dan ook as enkelverse uitgelig word -dus alleenstaande segmente wat elkeen vervul aan die voorgestelde riglyne.
Ek haal die volgende uit Gert Strydom se riglyne aan, oor hierdie struktuur:
Gewoonlik kom die tema van die gedig in die eerste twee reëls voor,
met die mening van die digter in die derde reël
en die gevolgtrekking of konklusie in die vierde reël wat dan die samevatting van die inhoud daarvan is.
Die Persiese kwatryne van Omar Khayyam (11de eeu) het 'n sterk invloed uitgeoefen op die Westerse poësie. Hierdie struktuur neig om 'n wysgerige inhoud te bevat en handel dikwels oor lewe en dood; kortstondigheid van vreugde, skoonheid en dan ook die liefde en wyn.
Uit die voorbeelde van verskeie groot digters is daar sommiges wat hou by tien lettergrepe per reël.
Ander wyk weer af soos te siene in hierdie voorbeeld van Fanie Olivier uit sy sesde bundel [A]postroof:
afwagting
en toe dit donker word die aand gee jy die gees:
jy hou, eenvoudig, asem op: dis klaar met kees.
en gegewe dié gegewe waarom sou jy
daarbuite later iets van jou, nou ‘n hiaat, wou lees?
-
VOORBEELDE UIT ONS EIE GELEDERE:
Piet Magriet
Wie weet of die haas in die maan
nie deel is van my verstaan nie,
deel is van die heelal se plan
om my weë reguit te baan nie.
© PM
Voorbeeld met tien lettergrepe:
Wie weet of alle skoonheid wat vergaan
nie deel is van ‘n plan, oud, onverstaan,
van wat die nagtegaal miskien mag droom,
van wat die aandblom fluister aan die maan?
© PM
NOG 'N VOORBEELD UIT DIE PEN VAN PIET MAGRIET
Op een en twintig jaar word ons mondig.
Sê hul mos die lewe is kortstondig.
Is dit nou ‘n werklikheid of dink u
hierdie oue ou stelling is grondig?
© PM
Naas: Strandgeveg
Ry op ry soos geoefende soldaat
spoel die branders bo-oor die sandsinkplaat
om na die aanslae terug te val
en die sand ongeskonde klam te laat.
Male en male, male sonder tal
word die weerlose sandstrook aangeval.
Skuimperdbranders veg eindloos en verwoed
maar die sand se riffellinies staan pal.
Die geveg is spiesloos en sonder bloed,
‘n geworstel sonder durf, sonder moed
word dag vir dag onkeerbaar weer hervat
daar waar die seegetye daagliks woed.
© Naas
'n egte, opregte Suid-Afrikaanse Rubáiyát kwatryn deur onse eie Langenhoven aldus Meester Naas.
Bouverval
In die reghoeke van die parlement
word wette van ‘n nasie in sement.
Maar sonder begrip, met skewe troffel
bou hul flytig saam aan ‘n land se end.
© Naas
En toe skep Naas hierdie pragtige vertaalde weergawe vanuit PM se Engelse Rubáiyát kwatryn wat sy gedeel het met ons:
Ontwaak! Die son agter die Oosterkim
verjaag die sterre in ‘n hersinskim.
Slaan die koning’s toring met ‘n lig-swaard
wyl hy die slagveld in die hemel klim.
© Naas
Trapsoetjie:
Ek lees van al die strukture,
en dit dryf my teen die mure,
want van tyd is daar geen sprake,
tussen ‘n harde plek en baie vure.
Help is altyd byderhand
So staan hy met sy toon in die sand
Weer ‘n wonder woord getoor
Bouen ‘n sterker band.
Moedertjie hart so sag,
moet berge vermag.
Hardekoppe -
Gee haar asseblief die krag.
So hol elkeen se woord
Van liefde tot die groot moord
Tussen mure en gange
Bevind ons, ons in ‘n woorde oord...
© Trapsoetjie
En tong in die kies het ek die volgende kwatryne geskep:
Telepatie
My lief, ek wou nog vir jou sê
daar's ietsie wat ek graag wil hê;
maar toe knipoog jy en nooi my
om knussies by jou te kom lê!
© Meraai vannie baai
Dit is nou nie juis die perfekte voorbeeld van 'n kuise lewensbeskouing vir oues van dae nie; maar oud is nog lank nie koud nie, is mos 'n groot waarheid ne!
Kwatryne Pyne ♪♪ (in G-my-meer)
Jou kombers, my matras, daár lê K(w)atryn!
Ja daár lê Quatrain! ♪♪ Ja daár lê Quatrain!
Persies of plein? ♪♪ Wat van 'n Rubáiyát;
tel ons grepies? Oi! Net daar lê die pyn!
© Meraai vannie baai
*Met respekte en erkenning aan die groot geeste van toeka tot nou.
-
Ek is vandag baie trots op my mentors/vriendinne/leermeesters hierso ....
Hennie van Hennie se Skryfhoekie en Hennie se Digkompetisie fb-blaaie het 'n uitdaging gegee oor persiese kwatryne en Meraai se inligting hiervanaf soontoe gedeel sodat daardie digters bietjie daaroor kan dig. :toothy4:
Dankie Raaitjie! julle mag maar, né! :love7: :love7:
nou ja, laat ek ook sommer my griffelbreinselle hiermee toets .... :icon_study:
-
Wat 'n voorreg! :love7: :notworthy:
-
Voorlopig het ek nog net die tweede een op daardie kompetisieblad gaan plaas. Ek toets nog 'n ander woordgedagte ...
Persiese kwatryne
Dit was in die oue kasteeltyd gewees,
geeneen kan ooit die seer genees.
Die verlies van hulle lewe saam is
in haar memoirs, vir enigeen om te lees.
In Ragab se lewe het sy haar ingeleef,
asof 'n rolmodel, haar voorbeeld nagestreef.
Te laat het sy die immorele nadele besef en
haar tussen slymslierte en diep waters in begeef.
©adéle theron
-
Rubáiyát, wat 'n skat! Ja-nee kyk, ons weet hoe om die woorde te smyt!
-
Puik Adele! Ek glimlag wyd vir 'ja nee kyk - ons weet hoe om die woorde te smyt!"
-
:toothy4: :toothy4:
-
More julle. Ek sien julle het lanklaas iets hier geplaas. Ek het op 'n Blad opgeindig wat julle ook maar kan kom besoek. SA Digters. Joey se Skryd en digblaaie is ook nie te versmaai nie. Maar daar by Sa Digters het ons 'n kontrak met 'n uitgewer. Ek nooi julle uit om dit te kom uitkyk daar. Ek mis my ou vriende baie
-
Hallo Ans ... lekker om jou hier te sien ... ons gesels gereeld en lekker oor kuiers en ander geselsies. Kom loer daar ook in. :love7:
Ek is deel van SA Skrywers en Digters maar vir ons wat nie fereeld kan deelneem nie is dit moeilik. Hulle onderwerpe en sperdatums gooi my uit. Maar jy kan regtig jou skrywes hier ook plaas ... altyd kosbaarmooi dan kan ons dit ook lees.
-
Ek mis al die saam kuiers ongelooflik ook. Sal bietjie gaan loer wat julle doen mater.