Die Afrikaanse Forum

Bak en brou => Resepteboek => Tradisionele geregte => Topic started by: adele on December 08, 2011, 08:58:36 PM

Title: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: adele on December 08, 2011, 08:58:36 PM
ek was maande lank sonder toegang na my werks-epos nadat ek getrek het en sukkel nou al 'n maand lank om van al daai duisende eposse wat opgehoop het ontslae te raak. Maar hier en daar vang iets my oog soos hierdie melkkos en -snyselresepte. En die woord wat ek nog nooit gehoor het nie - lees verder en sien self hoe beskrywend dit is

Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)


Ek het dit deur hierdie groep gekry, maande gelede al, so ek wonder maar net of haar resepteboek al klaar is. dalk ken een van julle haar.

Subject: [christenpenvriende] RESEPTE - Melkkos

 
Liewe Vriende, Kollegas en Uitgebreide Vriendekring, ('n pêl van jou het gesê ek moet vir jou ook skryf),

Ek kook op RSG

Vandag was ek 'n gas op RSG saam met Martelize Brink. Ek het melksnysels gemaak, of slinger-om-die-smoel, soos dit ook heet. Ons het lekker oor Boerekos gesels en daar was soveel SMS'e, dat die besigheid later ineengestort het.

Boerekos

Ek is flink besig met "Die Groot Boerekos Boek”. Sal bly wees as julle Ouma se resepte vir my sal stuur. Ek soek ou kosse, ou gebruike. Boerekosse. Streekskosse.

Baie mense stuur vir my hulle resepteboeke omdat hulle ouetehuis toe gaan, of jongmense stuur dit omdat hulle self nie erg daaraan het nie, maar weet dat dit bewaar moet bly. Dankie daarvoor.

Ek werk self deur die boeke, gebruik daarvan wat ek kan - met erkenning, natuurlik - en daarna sal dit veilig bewaar word by die Universiteit van Stellenbosch, of teruggestuur word aan die eienaar.

"Die Groot Boerekos Boek" gaan pragtig wees wanneer dit verskyn; ‘n ware erfstuk. Ek is baie trots daarop.

Afval en Afvalligheidjies

Dit gaan uitstekend met die verkope van Afval en Afvalligheidjies. Die helfte van die oplaag is na twee maande uitverkoop en daar is geen promosie gedoen nie. Elke keer as ek na die voorblad kyk, raak ek lus vir daardie lymerige skaappoot. En die haksel-resepte binne-in, die niertjies met suursousie. Sjoe, hoe water my mond nou.

Dit reën!

Terwyl ek vir julle skryf, sak hier ‘n salige reënbui uit. En saam met die reën kom die kaggelvuurtjie en die lus vir winterkosse. Boontjiesop, wildspastei, vaalafval en melkkos.

Melkkos?

Nou is daar so waar as wraggies mense wat nie weet wat melkkos is nie. Het al gehoor van, het nog nie geproe nie. Of hulle sê vir my, ek het dit laas in die jare Sestig gehad.

Ek stap met my kastrolletjie in die straat af. Ons is maar min mense hier onder Klein-Hangklip, ons ken almal mekaar. Vir almal wat ek teëkom, word die deksel opgelig en hulle ruik. “Melkkos!”

Jy sien sommer daai uitdrukking van verlange, van nostalgie, van dink aan “my ouma in kaneel”.

Melkkos van frummels

Hierdie metode is maklik en vinnig. Dit behoort slegs 15 minute te duur om alles klaar te maak van begin tot einde.

2 ℓ (8 k) melk

250 mℓ (1 k) koekmeel

2,5 mℓ (½ t) sout

15 mℓ (1 E) sagte botter (margarien is nie botter nie)

Kook die melk.

Sif die koekmeel en sout saam – loer dat die melk nie oorkook nie.

Vryf die sagte botter met die vingerpunte by die meel in sodat dit frummels maak. (Jy kan dit in jou voedselverwerker doen).

Voeg die frummels geleidelik by die kokende melk terwyl jy gedurig roer. Daar mag klonte vorm, maar hou net moed en hou aan roer. Stel die plaat baie laag en laat sag prut vir sowat 8 minute. As dit oorkook, was jou plaat te hoog gestel!

Bedien met kaneelsuiker.


Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)

3 eiers

375 mℓ (1½ k) meelblom

5 mℓ (1 t ) sout

1,25 ℓ (5 k) melk

2 stukke pypkaneel

Klits die eiers. Sif die meelblom en sout by en meng goed. Knie die deeg tot dit elasties is. Strooi meel oor ’n deegplank en rol die deeg dun uit in ’n reghoekige vorm. Strooi meelblom oor die uitgerolde deeg.

Rol die deeg van die een kant af op en sny dit met ’n skerp mes in dun repies. Die mes moet skerp wees, anders druk dit die deeg plat. Strooi meel oor die snysels.

Verhit die melk, waarby die twee stukke pypkaneel gevoeg is. Sodra die melk kook, word die snysels geleidelik daarin gegooi. Roer met ’n vurk sodat die snysels nie aanmekaar vasklou nie – werk liggies, jy wil nie ’n pappery in die kastrol maak nie.

Laat stadig kook vir 20-25 minute. Skep op in groot sopborde en bedien met kaneelsuiker en ’n klont botter, as jy hou van overdaad.

‘n Gunsie, asseblief:

Stuur hierdie e-pos aan jou pêlle, sodat hulle aanlyn gratis kan inteken op die nuusbrief. En skryf vir my, pos is altyd lekker.

“Agter die lekker aan” en “Nog ‘n stukkie” is by boekwinkels beskikbaar teen R250. Getekende eksemplare kan direk by my bestel word teen ‘n vet afslag deur op my kwylblad te gaan by http://www.dinevanzyl.co.za/

Jy kan “Afval en Afvalligheidjies” ook bestel teen R180.

Onthou

Maak daai melkkos, dis nie soveel moeite nie en dis baie, baie lekker.

En asseblief, laat weet my as julle iemand ken met wie ek net MOET praat, omdat die persoon kennis het wat in Die Groot Boerekos Boek moet gaan.

Liefdetjies en al daai mooi gedagtes.

Ek kook – soms selfs in die kombuis!

Dine van Zyl

Sel: 072 183 0815
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: Angelica on December 09, 2011, 06:09:14 AM
Oh man... KOSbaar.
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: Lox on December 09, 2011, 07:08:35 AM
ons maak nog gereeld melkkos in die winter koue vir aandkos
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: PM on December 09, 2011, 09:52:43 AM
Ek moet iewers 'n resep hê met kondensmelk.  Sal 'n bietjie gaan soek daarna. 
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: werelde weg on May 09, 2012, 12:14:54 AM
ek ken daai eerste een hom maak ek baie die 2de is nogal meer moeite vir n enkel man
hoeveel vroue van vandag kan nog sulke kosse maak....
ek het ook al gehoor van mense wat pasta in gooi?
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: Meraai vannie Baai on May 09, 2012, 02:38:25 AM
Myse magoed het pasta ingegooi WW, (spaghetti) en dan het ons lotjie omtrent slinger-om-die-smoel gesmul. Liefff die uitdrukking Adele!
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: werelde weg on May 09, 2012, 10:38:38 AM
so meraaitjie dan ggoi mens net pasta in inplaas van die deeg bedryfie?

patrys waar daai kondensmelk storie van jou?
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: Ah Willa on May 09, 2012, 09:28:19 PM
innie winter is Melksnysels my stabelkos ... in ons familie praat ons van kaneel-pap ;-)

soos Meraai maak ons die kaneel-pap ook eerder met macoroni .... dis vir my lekkerder as die sago / meelsnysels variasies  :love7:
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: Meraai vannie Baai on May 10, 2012, 02:40:58 AM
Yep WW, die spaghetti met blikkie kondensmelk ook by  - mannnnnn dis heeeeeeeerlik  :toothy4:
Title: Re: Melksnysels (Slinger-om-die-smoel)
Post by: PM on May 10, 2012, 08:53:41 AM
Daar het jy die antwoord WW, dankie Raaitjie.